Vroue in die Pauliniese gemeentes

Vroue in die Pauliniese gemeentes – Francois Malan

Tersia vra:

Wil graag u verklaring hoor van 1 Timoteus 2 vr 11-15. Is dit nog van pas in vandag se tyd? Hoekom was dit so bepaal in die Bybelse tyd.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die benaderings tot die verklaring van die verse kan in drie hoofgroepe verdeel word:

Die tradisionele hiërargiese verklaring wat vroue verbied om mans in die gemeente se samekoms te onderrig op grond van die skeppingsordinansies wat vir die hele kerk vir altyd geld.

Die feministiese rekonstruksie van die vroeë kerk wat hierdie tipe tekse nie as maatstaf aanvaar nie, omdat dit die toepassing van die mens se bevryding wat Paulus se evangelie verkondig belemmer, en daarom geskrap moet word.

Die derde groep begin by Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van man en vrou, en sien hierdie tekse as ‘n uitsondering wat aan ‘n spesifieke gemeente vir ‘n spesifieke tyd se probleme aanwysings gee. In 1 Timoteus waarsku Paulus juis teen ‘n valse leer wat sy kop uitgesteek het in die gemeente van Efese, waar Timoteus leiding moet gee. (Die derde verklaring word hieronder kortliks verduidelik)

1 Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van gelowiges

In hoofstuk 12 oor die verskillende gawes van die Gees vergelyk hy die gemeente met ‘n liggaam: Want soos die liggaam ‘n eenheid is maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. En ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk (12:12-13).

In die brief aan die Kolossense, geskryf tussen 60 en 62 n.C., sê Paulus: By die nuwe mens, wat tot volle kennis en na die beeld van die Skepper vernuwe word, is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar (nie-Grieke) of selfs Skittiër (‘n volk wat destyds die toonbeeld van onbeskaafdheid was), slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal (3:10-11).

2 Vroue in die Pauliniese gemeentes

Volgens Handelinge18:26 het Paulus se vriende (vgl. 18:1-3,18), die vrou Priscilla en haar man Akwila, vir die prediker Apollos na hulle huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Volgens Romeine 16:3-5, waar Priska ook eerste genoem word, was daar later ‘n huisgemeente in hulle huis, waar hulle die leiding sou geneem het.

Junia en haar man Andronikus in Romeine 16:7 was medegevangenes van Paulus. Hulle het reeds voor Paulus een met Christus geword, en is hoog aangeskrewe by die apostels.

3 Moontlike spesifieke probleme in die gemeente Efese wat in 1 Tim 2 aangespreek word (waarskynlik in 62-63 n.C. geskryf).

Volgens 1 Tim 1:3 was daar ook mense wat vreemde leringe versprei het in die gemeente (vgl. 6:20-21). In 2 Timoteus 2:18-19 word verduidelik dat hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het en dit het tot ongeregtigheid gelei. Hulle is in die strik van die duiwel gevange gehou om sy wil uit te voer (2 Tim 2:26). 1 Tim 4:1-3 sê die afvalliges verhinder mense om te trou en laat hulle sekere kossoorte vermy. In 1 Tim 5:11-15 word dan ook verwys na jong weduwees wat deur die valse leraars veroordeel word as hulle weer wil trou en ander wat weggelok word om met ongelowiges te trou. Die verbod op vroue om in die gemeente onderrig te gee of hulle mans te domineer (2:12) is miskien die gevolg van hulle verkondiging van hierdie vals leer.

4 Toepassing van die gelykheidsuitsprake

Verlossing is ‘n proses wat progressief in elkeen se lewe moet deurwerk. In 2 Kor 3:18 skryf Paulus: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël (of: om dit te weerspieël), word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ So behaal ons oorwinning oor sonde en ou gewoontes en gebruike, en groei ons om al meer soos Jesus te word. Maar die finale oorwinning oor sonde vind eers met die opstanding plaas. So gaan dit ook in die kerk en samelewing.

 

Prof Francois Malan

 




Vroue in leierskapsposisies?

Vroue in leierskapsposisies? – Kobus Kok

Louis Vra

“Was enige van die disipels se vroue betrokke by hulle werke? Waar staan dit in die Bybel, dat n mens as ‘n egpaar ‘n sel leier, jeug leier of kinder kerk leier MOET wees, anders is die verste wat jy kan vorder, is om op ‘n Sondag na die diens te kom luister, en by ‘n sel aan te sluit as gemeente lid? Ek is baie hartseer vandag. Ek WIL betrokke raak, en n verskil maak, maar volgens die kerke op ons dorp, kan ek nie.”

 

Kommentaar van Prof Kobus Kok

Prof Kobus Kok

Regoor die wêreld sien mens nog hoe mense van mening is dat vroue nie leierskapsposisies in die kerk mag beklee nie. Ek was onlangs saam met mense na ʼn kerk in Brussels in België. Mens sou dink dat die Europeërs en die (postmoderne) Weste al lankal verby die punt is om te dink dat vroue nie in kerklike leierskapposisies mag staan nie. Groot was my verbasing toe iemand die Sondag sê dat hulle baie ongelukkig is met bepaalde kerkleiers in België wat skaamteloos vroue predikante oplei en aanmoedig. Volgens hulle kan dit gewoon nie so wees nie. Die rede is eenvoudig: Die Bybelse boodskap leer ons dat vroue nie in leierskapsposisies mag staan nie en dat hulle in die erediens moet swyg (hesugia in Grieks – 1 Tim 2:12). Die tekste wat veral gebruik word is 1 Timoteus 2:12 waar Paulus vroue eksplisiet verbied om outoriteit (authentein in Grieks) oor ʼn man te hê. Dit is dus wel waar dat die Bybel dit verbied. Tog moet mens aan die ander kant baie mooi verstaan dat die Bybel in ʼn bepaalde historiese (geskiedenis agtergrond) konteks geskryf is. Die antieke wêreld was ʼn paternalistiese wêreld. Die woord paternalisties beteken dit was ʼn wêreld waarin mans alles oorheers het en vroue ʼn minderwaardige posisie beklee het in die samelewing. Dit was dus algemeen in die antieke wêreld bekend dat vrouens nie oor mans gesag mag uitoefen nie. Aan die ander kant sien ons hoe die Bybel op plekke soos Gal 3:28, 1 Kor 12:13 en Kol 3:11 dit duidelik maak dat man en vrou, slaaf en vry, barbaar, Griek en Jood almal een is in Christus. Dit kon dus in die antieke wêreld gebeur dat vrouens hierdie tipe boodskappe gehoor het en dat hulle dan op grond daarvan ongesonde (vir die konteks) mag oor mans wou uitoefen. Paulus was sensitief vir die konteks en vir die boodskap wat na buite gestuur word. Daarom het Paulus en die vroeë Christene altyd met ʼn sensitiwiteit omgegaan met die kultuur waarin hulle geleef het om nie die verkeerde indruk te skep na buite nie. Hulle wou nie die geloofwaardigheid van die Christendom skade aandoen nie. Tog sien ons op ander plekke in die Bybel dat vroue wel belangrike plekke ingeneem het, alhoewel hulle nie oor die algemeen as leiers voorgestaan het en gemeentes gelei het nie.

Vandag is die vraag egter tot watter mate mens die antieke kultuur wat paternalisties was in ag moet neem indien mens oor die leierskap van vroue wil besin. Persoonlik is ek van mening dat die Bybel in sy konteks verstaan moet word en dat Timoteus nie sommer net as algemene reël toegepas moet word in enige konteks nie. In die Nuwe Testamentiese Studies praat ons van die hermeneutiese dimensie of die dimensie waarin daar tot kruiskulturele “verstaan” gekom word. Daar is baie Bybelse opdragte wat ons vandag “vertaal”. Dink maar aan die Sabbat wat eintlik op ʼn Saterdag was, of die reëls in die Ou Testament waarvolgens mens nie kledingstukke van verskillende materiale mag dra nie of mense moet stenig wat teen hulle ouers in opstand kom of egbreuk pleeg. Net so sê Paulus in Korinte dat vrouens hoofbedekkings moet dra in die kerk, maar tog doen niemand van ons dit meer nie. Hoekom nie? Omdat ons besef het dat dit in die antieke tyd wel ʼn belangrike beginsel was dat vrouens in openbare ontmoetings hoofbedekkings moes dra. Ons konteks is egter anders en daarom neem ons Paulus se woorde nie letterlik op die maar ons verstaan die beginsel. Die beginsel is egter iets wat in ʼn bepaalde konteks sin maak. Ons is dus reeds almal implisiet (onderliggend) besig om die Bybelse boodskap in ons moderne konteks te “vertaal” of te (her)interpreteer. In sommige kontekste, soos in die NG Kerk vandag doen vroue baie goeie werk as leiers in en van gemeentes. Beteken dit die NG Kerk gaan direk in teen God se Woord? Nee! Die NG Kerk lees die Bybel binne die antieke konteks en neem die uniekheid van die antieke konteks in ag in die produksie van die Bybelse geskrifte. Die NG Kerk neem ook ons hedendaagse konteks in ag waar dit in sommige kontekste nie meer ʼn probleem is om die gesag van vrouens oor mans te aanvaar nie.

Dit mag wees dat sommige mense in bepaalde kerklike kontekste vandag ook nie die rol van die vrou in leierskapsposisies wil ondersteun nie. Daardie kerke het natuurlik die volle reg om dit te doen. Sommige kerke skryf dit selfs in hulle kerkordes vas. Mens moet ook sensitief wees vir die konteks waarin jy leef en die gemeenskap waarin jy leef respekteer. Vir my sal dit persoonlik baie moeilik wees om in so ʼn konteks te kan funksioneer omdat ek sterk voel dat vroue wel in leierskapsposisies in die kerk mag staan. Die rede is dat ek glo dat die Bybel binne konteks verstaan moet word en dat God nie opgehou het om waarheid aan ons te openbaar nie, en dat gemeenskappe se insigte ook groei en ontwikkel. Ons leef nie meer in ʼn antieke wêreld nie.

Omdat die Bybel binne-in ʼn paternalistiese sisteem ontstaan het, gaan mens dus nie tekste kry waarin vroue aangemoedig word om as leiers te funksioneer nie.

). Bid daarom baie mooi dat die Here jou sal wys hoe jy Hom, die kerk en jou gemeenskap op hierdie tyd in die geskiedenis die beste kan dien. Waarvoor roep Hy jou vir hierdie tyd. Vind dit uit, en leef dan voluit.

 

Prof Kobus Kok

 




Vrouedrag in die Kerk

Vrouedrag in die Kerk – Francois Malan

Jacobus vra: 

Ek behoort aan een van die Pinkster Kerke wat baie gekant is dat vroue broeke aantrek en hul hoofde bedek moet word in die eredienste. Kan u asseblief uitbrei en hulp gee op hierdie vraag.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel dat die kerk se teenkanting teen vroue wat broeke dra, kom uit die lees van Deuteronomium 22:5, en die voorskrif oor die bedekking van hulle hoofde uit 1 Korintiërs 11:5.

Deutr.22:5 vra dat die uiterlike onderskeid tussen geslagte en soorte wat God ingestel het eerbiedig sal word. Dit dra die stempel van die ou wettiese bedeling van Israel.

Die Hebreeuse woord keli wat deur die oorspronklike skrywer van Deuteronomium gebruik is, dui nie net kleredrag aan nie, maar ook wapens vir oorlog en ander gebruiksvoorwerpe vir die plaas en die huis. Die vroueklere simelot wat die mans nie mag dra nie, verwys weer na die vrou se mantel waarmee sy haar toedraai. Dit beteken dat ‘n vrou nie moet probeer om soos ‘n man te lyk of op te tree nie, en die man nie soos ‘n vrou nie.

Die afsku (Hebreeus: to’ebat) van die Here God, waarvan Deutr.22:5 praat, wys dat die uitruiling van mans en vroue se klere ook te doen het met die gebruike wat by die heidense Kanaäniete voorgekom het, en die Here wil nie hê dat Israel deelneem aan die Kanaäniete se feeste en die gebruike wat hulle daar beoefen nie, wat waarskynlik ook met homoseksuele dade gepaard gegaan het.

In 1 Korintiërs 11 verwys Paulus na die gebruike van sy tyd, toe dit vir ‘n vrou ‘n skande was om haar hare af te sny of af te skeer (v6).

Die aanwysings van Paulus oor optrede in die gemeente se samekoms volg op die beginsels wat hy in 1 Kor 10:23-11:1 gestel het – vgl. bv. vers 32: Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Hier was nou ‘n gebruik van die Jode in die gedrang. ‘n Joodse vrou kon destyds in haar huis kaalkop bly, maar as sy uitgaan moes haar kop bedek wees. Vir ‘n getroude vrou om in die openbaar sonder iets om of op haar kop was ‘n ernstige skande. En so het die eerste gemeentes wat met Joodse gelowiges begin het, die gebruik in die kerk gevolg dat vroue se kop bedek was.

In 1 Kor 11:13 vra Paulus die gemeente om self te oordeel of dit betaamlik is (letterlik: of dit gepas is) vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid. ‘Gepas’ sluit aan by die mode van die tyd, of dit in die algemene gebruik pas. En in v16 verwys hy na die gewoonte in Korinte en in ander gemeentes, na die algemene gebruik. Daarom is Paulus teen die vroue wat hulle vryheid in Christus wat hulle van die wet vrygemaak het, misbruik deur aanstoot te gee aan ander gemeentelede en ander gemeentes.

Die gebruike van ons tyd verskil baie van destyds, en dit is nie meer onvanpas vir ‘n vrou om sonder ‘n hoed op straat of in vergaderings te verskyn nie – ook nie met broeke wat vir vroue gemaak is nie.

Christus het ons vry gemaak van ‘n wettiese lewe, waar ons met goeie werke ons verlossing of God se goedkeuring probeer verkry. Hy het die verhouding van ons sondaars met God kom regmaak deur ons sondes alles op Hom te neem, sodat ons in die verhouding van kinders tot ons Vader kan lewe (Romeine 8:14-17). Dit is alles uit God se genade en liefde vir ons (Galasiërs 5:1). Ons groot vraag vandag is of ons ons vryheid in Christus uitleef in liefde vir God en ons medemens, en nie vir ander ‘n struikelblok is nie (vgl. 1 Kor. 10:23-11:1)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

Die Groot Geloofswoordeboek: Feminisme

  • Evangeliese Feminisme Kritiese Feminisme Radikale Feminisme

Vir eeue lank – trouens, so ver as die menslike geheue teruggaan – is dit ‘n algemene verskynsel dat vrouens nie gelyk aan mans be­­han­del word nie, en in baie gevalle fisiek en emosioneel on­derdruk is. In hoofsaak het vrouens dit in die verlede gelate aan­vaar. Maar gedurende die laaste paar dekades het daar ‘n beweging ont­wikkel wat dit bevraagteken: die Feminisme. Onder feminis­te tel nie net vrouens nie, maar ook mans wat die onderdrukking van vrouens beveg.

Ons kan die mensdom in hierdie opsig in drie groepe ver­deel:

1.            dié wat nog steeds die posisie van vrouens gelate of onna­denkend aanvaar

2.            dié wat dit met oortuiging verdedig en hulle op die tradisie en/op die Bybel beroep

3.            dié wat dit verwerp

Die eerste groep is waarskynlik die grootste groep. Dis gewoon­lik so dat die meerderheid mense nie geneig is om te veel vrae te vra nie. Hulle lewe maar net van dag tot dag, en sommi­ge maak maar die beste daarvan wat hulle kan. Daar sal baie vrouens wees wat nie te sleg af is nie, ‘n paar wat dit selfs baie goed getref het, en hulle sal nie juis aandag gee aan die manier waarop vrouens in die algemeen behandel word nie.

Die tweede groep is dié wat dit verdedig dat vrouens anders as mans behandel moet word. Sommige sal inderdaad selfs nog die diskriminasie en onderdrukking van vrouens goedkeur, maar die meeste sal dit verwerp, maar tog die beginsel verdedig dat vrouens anders is as mans en daarom anders behandel moet word. Hulle sal lyste kenmerke opstel wat mans en vrouens van mekaar onder­skei. Mans is sterk, hulle reageer vinnig en neem maklik inisiatief, hulle kan leiding gee. Vrouens is die “swakkere vat”, hulle is sag, ge­duldig, bereid om te dien, onseker en het ‘n behoefte aan leiding. Hulle maak ‘n sterk saak daarvoor uit dat vrouens ‘n ander roeping in die samelewing het as mans. Daar word graag gesê dat vrouens tuis­te­skeppers is en veral die geweldige taak het om die volgende ge­slag groot te maak.

Hierdie oortuiging kan hom sterk op die Bybel beroep. Die By­bel het ‘n lang geskiedenis van vrouens wat “tweede” kom en inderdaad anders as mans behandel word. Veral konserwatiewe Evangelicals en Katolieke beroep hulle dus sterk op die Bybel, nie vir diskriminasie teen vrouens nie, maar vir ‘n unieke on­der­danige rol van vrouens. Mans is geskape om leiding te gee en vrouens om leiding te ontvang. Mans is geskape om broodwinners te wees en vrouens om tuiste te skep en kinders op te voed. Mans is gemaak en aangestel om die inisiatief te neem en die vrouens om te volg. Daarom is die man die hoof, en die vrou moet aan hom onderdanig wees. Dit word ‘n *skeppingsordening genoem.

Die derde groep word feministe genoem. Hulle is sterk in reak­sie teen die verlede toe daar erg teen vrouens gediskrimineer is, en hulle is oortuig dat dit verkeerd is en dat vrouens tot hulle reg moet kom. Deel van hulle oortuiging is dat die “skep­pingsverskille” wat daar tussen mans en vrouens sou wees as sodanig diskriminasie teen vrouens is. Hulle ontken die ver­skillende rolle wat aan die twee geslagte toegewys word, en eis dat vrouens net soos mans behandel moet word, met dieselfde regte en geleenthede. Daar is eintlik net ‘n paar biologiese verskille tussen mans en vrouens: mans kan nie geboorte gee nie, en mans is gewoonlik groter, sterker en hariger as vrouens.

Onder Christene het Feminisme verskillende vorme aange­neem. ‘n Mens sou minstens drie kon onderskei: Evangeliese Feminisme, Kritiese Feminisme en Radikale Feminisme.

 

• Evangeliese Feminisme

Evangeliese feministe is oortuig dat daar nie net een lyn in die Bybel, dié van eensydige vroue-onderdanigheid, is nie, maar ook ‘n ander lyn, dié van vroue-gelykheid, en dat hierdie lyn deel van die boodskap van die Bybel is. Hulle gee toe dat vrouens in die Ou Testament sleg behandel is, omtrent geen regte gehad het nie en volkome van hul mans afhanklik was. (*Onderdanigheid van die vrou) Maar hulle is oortuig dat die situasie in die Nuwe Testament verander het, dat Jesus sterk vir vrouens opgekom het en hulle heeltemal anders behandel het as in die Ou Testament.

Hulle beroep hulle baie sterk op Galasiërs 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één.” Hulle wys daarop dat “man of vrou” in die Grieks eintlik lees: “manlik en vroulik” en ‘n aanhaling uit die skeppingsgeskiedenis is (Gen 1:27), wat impliseer dat die sek­sue­le onderskeid wat deel van die skepping is, nie ‘n verskil in die gemeente behoort te maak nie. Verder wys hulle daarop dat die beroemde deel oor die hoofskap van die man en die on­derdanigheid van die vrou ingelei word deur ‘n algemene reël van onderdanigheid waaraan vrou én man gehoorsaam moet wees: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Ef 5:21). Mans moet dus ook aan vrouens onderdanig wees. Die res van die deel verduidelik dan net hoe vrouens se onderdanigheid moet lyk (nie slaafs soos die Griekse samelewing geëis het nie, maar bevrydend “soos aan die Here” – v 22), en hoe mans se liefde moet lyk. (*Onderdanigheid van die vrou)

 

  • Kritiese Feminisme

Kritiese feministe is heelwat negatiewer oor hierdie positiewe lyn wat die evangeliese feministe beklemtoon. Hulle meen dat selfs Jesus nie regtig anders teenoor vrouens opgetree het as die algemeen aanvaarde norme van sy tyd nie. Hulle meen dat ‘n mens eenvoudig die Bybel op hierdie punt moet kritiseer: daar is nie regtig in die Bybel ‘n positiewe kyk op vrouens nie. Ons moet die moed hê om self die saak van vrouens op te neem met ons gesonde verstand. Daar is volgens hulle in elk geval ook ander sake wat nie in die Bybel behandel word nie, en waaroor ons maar self besluite moet neem. Hulle meen slawerny is een so ‘n saak omdat daar nie regtig duidelike sterk uitsprake teen slawerny in die Bybel is nie.

 

  • Radikale Feminisme

Radikale feministe gaan heelwat verder. Hulle is oortuig dat die Bybel deur en deur ‘n manlike, patriargale en androsentriese boek is wat ongeneeslik “siek” oor vrouens is en eenvoudig ver­werp moet word. Baie van hulle los dan ook die kerk en selfs die Christelike godsdiens as sodanig. Een van hulle groot besware is dat God in die Bybel manlik voorgestel word. (*Manlikheid van God) Nie net God die Vader nie, maar sy openbaring in Jesus die “Seun“, en ook die Heilige Gees is manlik. Dit sou beteken dat Hy vreemd teenoor vrouens staan. Sommige aanvaar dan vroulike gode wat die vrou se wese sou verstaan. Daar is byvoorbeeld sommige wat aan­vaar dat daar ‘n god Geia is. Dit is die Grieks vir “aarde”. Uit ons kinderdae onthou sommige van ons nog hoe daar by die skool van “moederaarde” gepraat is.

Dis interessant dat daar enersyds gepleit word vir die ge­lyk­heid van man en vrou en dat daar geen wesensonderskeid tus­sen die geslagte sou wees nie, maar dan weer beklemtoon word dat die vrou haar eie wese het wat so anders is dat dit nie deur ‘n manlike God verstaan sou kon word nie. Dit is oor die algemeen ook nie duide­lik waarom ‘n God wat vrouens gemaak het, hulle nie sou kon verstaan nie bloot omdat Hy manlik sou wees. Die vraag of God regtig manlik is, kom elders ter sprake. (*Manlikheid van God)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König