Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Die Groot Geloofswoordeboek: Wederkoms van Christus

Wederkoms van Christus

(*Eindtyd, *Laaste dae, *Tekens van die tye, *Antichris, *Jode, *Hei­densending, *Vertraging van die Weder­koms)

Die wederkoms van Christus is wesenlik vir ons geloof, maar is nie voorstelbaar nie. Dis wesenlik vir ons geloof omdat dit in terme van die Christelike geloof nie moontlik is dat alles enduit op aarde so kan voortgaan soos nou nie. Die onreg, smart en ellende kan nie gerym word met die heilsbeloftes van die Bybel nie. God het meer beloof en Christus het meer verdien as wat ons tans op aarde beleef.

En tog kan ons ons nie die wederkoms voorstel nie. Ons moet nie eens probeer nie. Die profesieë oor sy koms was nooit be­doel om ’n soort vooruitgeskrewe geskiedenis te wees nie. (*Vervulling van profesieë) Dit is deel van die *apokaliptiek wat ’n wêreldbeeld veronderstel wat ons nie meer deel nie, en wat boonop ’n werklik­heid probeer beskryf wat nie deel van die skry­wers se ervaring was nie en daarom in boaardse, onwerkli­ke beelde gedoen is. Die profesieë wat reeds volgens die Bybel vervul is, soos die profesie van die uitstorting van die Gees, is so vry en verrassend vervul dat ’n mens nie vooraf ’n voorstelling kan vorm van hoe die vervulling van ’n profesie lyk nie.

Daarom is voorstellings van die wederkoms wat op allerlei detail ingaan onvanpas. ’n Mens kry byvoorbeeld die gedagte dat die wederkoms eintlik nou eers kan plaasvind omdat ons TV het. Dat “al die volke van die aarde” (Matt 24:30) Hom sal sien, was nooit moontlik nie omdat die aarde rond is. Maar op TV kan die hele wêreld Hom gelyk sien; daarom kon Hy nog nooit tevore gekom het nie.

Daar is sienings van die wederkoms en die gebeurtenisse wat daarmee gepaardgaan, wat baie ingewikkeld is. (*Chiliasme) Daar is egter ook heel eenvoudige sienings soos die gangbare Gere­formeerde beskouing waarvolgens ons net vier gebeurtenisse ver­wag:

• die wederkoms van Christus

• die opstanding

• die oordeel

• die nuwe aarde

Omdat die wederkoms alreeds in die tyd van die Nuwe Tes­tament naby was (*Eindtyd), verwag ons nie die vervulling van nuwe *tekens van die tye wat nog nooit tevore vervul is nie. Tekens wat ons nou sien, is tekens wat al herhaaldelik deur die eeue vervul is as staande herinnering dat die wederkoms altyd naby is, dat die Here enige oomblik kan kom.

Volgens hierdie siening is daar niks spesifieks wat nog moet gebeur voor die Here kom nie. ’n Mens kan dit ook as kon­trolepunt stel: as iemand nog dinge verwag wat eers na ’n be­paalde tydperk moet gebeur, kan dit beswaarlik inpas by die dringende oproepe van die Nuwe Testament om elke oomblik gereed te wees omdat die Here se koms “voor die deur” is (Jak 5:9).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

Nuwe aarde

(*Hemel, *Wederkoms)

Die verwagting van ‘n nuwe aarde kom ‘n paar keer in die Bybel voor (Jes 66:22 ev; 2 Pet 3:13; Op 21:1 ev). Daarmee saam kry ons die belofte van ‘n nuwe Jerusalem (Op 21:2 ev), wat ook al in Jesaja 65:18 ev veronderstel word.

In die Lutherse teologie is die gedagte dat hierdie ou aarde ver­nietig gaan word en dat die Here ‘n ander aarde in sy plek sal maak. Hulle beroep hulle daarvoor op 2 Petrus 3:10-11 waar ons twee keer lees dat alles sal verbrand en vergaan, en dat ons volgens God se be­lofte ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde ver­wag.

In die Gereformeerde teologie kry ons die gedagte dat die ou aarde nie vernietig sal word nie, maar nuut gemaak sal word, en wel deur ‘n radikale krisis heen. Die nuwe aarde sal dus dieselfde aar­de wees, net heeltemal nuut. Daar is nie soseer ‘n duidelike Skrif­verwysing waarop hierdie siening berus nie, maar eerder ‘n argument. As God die ou aarde heeltemal sou vernietig, sou dit beteken dat Hy ‘n neerlaag teen die duiwel gely het, dat Hy nie sy oorspronklike doel kon deurvoer om op hierdie aarde met mense in gemeenskap te leef nie, maar dit wat Hy gemaak het, moet vernie­tig en iets anders, ‘n ander aarde, in sy plek moet maak. Daarom meen Gereformeerdes dat die herskepping van die ou aarde juis die trou sal bevestig van God wat nie die werk van sy hande laat vaar nie (Ps 138:8).

‘n Verdere argument word gebou op ‘n vergelyking tussen die mens en die aarde. Ook mense is deur sonde aangetas, maar God vernietig nie ‘n mens en maak ‘n ander mens in sy of haar plek nie, Hy maak die sondaarmens nuut. Dit is dieselfde mens wat van die sonde vry gemaak en nuut gemaak is. Die term *wedergeboorte is veelseggend, en daar word ook van die wedergeboorte van die aarde gepraat, en dat alles nuut gemaak word, nie vernietig word nie (Matt 19:28, 1953-vertaling; Op 21:5). Die “vernietig” van 2 Petrus moet dan in hierdie lig verstaan word: ‘n radikale verandering en herskepping.

 

Herskep én oortref

Die breedvoerige voorstelling van die nuwe hemel, die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem teen die einde van Openbaring, het twee motiewe: herskep en oortref. Daar is duidelik ‘n herskeppingsmo­tief. Genesis 1 verwys na die hemel en die aarde, Openbaring 21-22 ook. Genesis 2 het ‘n rivier en bome, Openba­ring ook (22:1-2). Aan die begin is God by die mense, teen die einde ook. Aan die begin is daar nie trane, smart en dood nie, teen die einde ook nie (21:4).

Ook die oortreffingsmotief is duidelik. Uit Openbaring 21-22 is dit sonder meer duidelik dat daar ‘n lang geskiedenis verloop het sedert die begin. Daar is sprake van Israel en ‘n tempel en die nasies en konings en die apostels. Maar die opvallendste is die oorgang van ‘n tuin na ‘n stad, van die tuin van Eden na die nuwe Jerusalem. Hierdie blote feit sê baie. In die Bybelse tye was ‘n stad ‘n vesting van veiligheid teenoor die platteland wat baie onveilig was omdat mag daar geseëvier het.

En die oorvloed en luuksheid waarmee die eindstad be­skryf word, is vir daardie tyd eenvoudig oorweldigend. Die stads­muur se (twaalf!) fondamente is met edelstene versier, die twaalf poorte is elk­een uit ‘n pêrel gekap, die strate is van goud. Vir enige era is dit oorweldigend, wat nog vir die tyd toe die boek geskryf is! Dit is on­eindig meer as Genesis 2 se tuin. En die veiligheid: die stadspoorte word nooit eens gesluit nie ter­wyl gerubs en ‘n vlammende swaard die toegang tot die tuin versper het (Gen 3:24).

Die simboliek van die stad is net so ryk. Die name van die twaalf stamme van Israel staan op die poorte, en die twaalf apostels s’n op die fondamente. Dit beteken die totale Godsvolk van die Ou en die Nuwe Testament is daar verteenwoordig. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, ‘n kubus. Dit is die simbool van vol­maaktheid. En onthou nou dat hierdie stad eintlik die bruid self is (21:2, 9 ev). Die volmaakte bruid op die nuwe aarde!

Dit is die wonderlike beskrywing van die heerlikheid wat God vir sy skepping en in besonder vir sy kinders voorberei. (*Ver­vulling van profesieë)

En die hemel? Gaan ons dan nie eendag hemel toe nie? Of kom die hemel dalk na ons toe? (*Hemel)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms – Dirk Venter

Willie Esterhuizen vra:

In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 praat Paulus. Hy sê:” Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens , die mens wat vernietiging bring , na vore getree het nie .” My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is?

Antwoord:

Ds. Dirk Venter antwoord:

Die “wettelose mens” en die opstand teen God kort voor die Wederkoms

‘n Leser vra: “In 2 Tessalonisense 2 vanaf vers 3 sê Paulus: ‘Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom het nie en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.’ My vraag is wat beteken die opstand waarna hier verwys word en wie die wettelose mens is.” (Aangehaal uit die Nuwe Lewende Vertaling).

Die opstand waarna hier verwys word, word in die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) vertaal as “die laaste afvalligheid”. Dit gaan oor die tydperk kort voor die Wederkoms van Jesus Christus, wanneer goddeloosheid en opstand teen God erg sal toeneem en ‘n hoogtepunt sal bereik. Matteus 24 en 25 vertel ons baie van wat Jesus Self oor hierdie tyd gesê het, soos byvoorbeeld dat God dit gelukkig sal inkort (Matteus 24:22). Sekerlik die hartseerste van hierdie tydperk, is dat mense wat met die evangelie bekend is, ook van God en Christus sal wegdraai en deel sal word van die opstand teen Hom (vgl. Matteus 24:10-13).  Allerlei vals profete en vals christusse sal verskyn en hulle sal selfs wondertekens verrig om die mense daardeur te mislei. Gelukkig sal dit nie vir hulle moontlik wees om die uitverkorenes van God te mislei nie, al sal hulle probeer (Matteus 24:24), want die uitverkorenes is dié wat (in teenstelling met die afvalliges) wel “die waarheid liefgehad en tot hul redding aanvaar het” (2 Tessalonisense 2:10; ook 2:13-17) en wat tot die einde toe sal volhard (Matteus 24:13).

Die “wettelose mens” wat in hierdie tyd sal verskyn, is die laaste in ‘n lyn van verskeie “antichriste” wat deur die eeue heen teen God en Christus opgetree het, en hy sal die ergste van hulle almal wees (vgl. 1 Johannes 2:18, 2 Johannes 7). Hy sal, as agent van die Satan, bekragtig wees om wonders te doen en mense te mislei (2 Tessalonisense 2:9-10). Hy sal homself ook bo alle ander gode en als wat heilig is verhef en voorgee dat hy God is (2:4). Tog is hy van die begin af reeds bestem vir die verderf (2:3), en hy sal meteens deur Christus verdelg word wanneer Hy terugkeer (2:8).

Baie van dit wat in 2 Tessalonisense 2 van die “wettelose mens” gesê word, se wortels is terug te vind in die boek Daniël (Daniël 7 en 8), en na alle waarskynlikheid is die eerste historiese persoon op wie hierdie prentjie van toepassing was, ‘n man met die naam Antiogus (IV) Epifanes (175-164 vC). Hy was heerser van die ryk van die Grieks-Seleukiede, wat Israel op daardie stadium oorheers het. Dié man het besluit om die Joodse geloof te vernietig deur die Jode te dwing om die Griekse godsdiens en kultuur aan te neem en hulle te verbied om langer gehoorsaam te wees aan die wet van Moses. Baie Jode hét gevolglik vergrieks en dus as’t ware afvallig geword (dit wil sê: in opstand gekom teen God en sy wet). Die boek 1 Makkabeërs (apokrief, waarskynlik tussen 134 en 104 vC geskryf) vertel ons baie van hierdie geskiedenis, insluitende van laasgenoemde afvalligheid (1 Makkabeërs 1:11-15, 43). As deel van Antiogus se program van vergrieksing, het hy die Joodse offers in die tempel verbied, sowel as die hou van die godsdienstige feeste en die sabbat. Hy het ook al die boeke met die wet van Moses wat sy manne in die hande kon kry, laat opskeur en verbrand. In die plek hiervan moes die Jode nou heidense feeste vier en offers bring op heidense altare wat hy oral laat oprig het. Hy het selfs sovêr gegaan as om die altaar van God in die Allerheiligste van die tempel te laat afbreek, en ‘n afgodsaltaar vir Zeus daar te laat bou, waarop daar maandeliks offers gebring is.

In 2 Tessalonisense 2 voorsien Paulus, gelei deur die woorde van die profeet Daniël en van Jesus Self en deur die inspirasie van die Gees, dat hierdie geskiedenis homself in vele opsigte gaan herhaal. Net soos wat daar voor die eerste koms van Christus ‘n tyd van erge afvalligheid en ‘n besondere “wettelose” regeerder was (wat hom teen God verset het en verhef het bo al wat heilig is), so sal dit weer wees kort voor Christus se Wederkoms ook, tot die ergste mate ooit.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter




Is die tekens van die eindtyd en wederkoms hier?

Is die tekens van die eindtyd en wederkoms hier? – Kobus Kok

Willie vra:

2 Tessalonisense 2:3 ” Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens , die mens wat vernietiging bring , na vore getree het nie.” Kan u help om die “opstand” waarna verwys word te verduidelik en wie die wettelose mens na wie Paulus hier verwys is. Ek wonder baie maal hoekom dit eers moet gebeur .

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Is die tekens van die eindtyd  en wederkoms hier?

1 Tessalonisense is die vroegste brief van Paulus wat ons vandag het en waarskynlik ook die oudste  brief in die Nuwe Testament. Paulus het dit teen ongeveer 50 nC geskryf. Dit was dus in die tyd net na die dood en opstanding van Jesus. Die woorde van Jesus was nog vars in mense se gedagtes en die verwagting van die wederkoms baie sterk. In 2 Tessalonisense, wat na vermoede heelwat later geskryf is, lees ons dat sommige mense gedink het die wederkoms is so naby dat hulle sommer heeltemal ophou werk het en net gewag het dat die hemel moet oopbars en Jesus hulle moet kom haal (kyk 1 Tessalonisense 3 en 4; 2 Tessalonisense 2; 3:6-15). Ander het egter tou opgegooi en Paulus bemoedig hulle met die woorde dat die Here enige tyd kan kom en dat hulle reg daarvoor moet wees. In 2 Tessalonisense 2:3-4 stel die skrywer dit duidelik dat die dag van die Here nie sal aanbreek voordat sekere tekens van die tye nie aangebreek het nie. Die doel daarmee is nie om die gelowiges te help om akkurate voorspellings te maak nie, maar bloot om te besef dat Christus se koms nie so vinnig sal plaasvind as wat die valse leraars voorspel het nie. Een van die tekens waarvoor hulle moet wag is die verskyning van die wettelose mens (2 Tessalonisense 2:3). Redelik onlangs in die geskiedenis, gedurende die tweede wêreldoorlog (1939-45) het baie mense geoordeel dat Hitler die groot Antichris is en die man van wetteloosheid en het hulle die einde verwag. Tydens die Reformasie ʼn paar honderd jaar van te vore het die Hervormers die Pous as die Antichris verklaar en die Pous het weer op sy beurt die Hervormers uitgebeeld as die Antichris en draak met verskillende koppe in Openbaring. Die gevaar met hierdie interpretasie metode is dat ons enige persoon as die Antichris en man van wetteloosheid kan verklaar. Deesdae probeer geleerdes om in die eerste plek te vra wat daardie uitsprake vir die mense van die antieke tyd kon beteken het. Dit was immers eintlik ʼn brief wat Paulus aan sy gemeente in Tessalonika geskryf het. Hierdie belangrike vraag veroorsaak dat ons die antwoord in die antieke tyd soek en nie in die eerste plek te vinnig na ons eie tyd spring nie, so asof dit vir nie vir die oorspronklike lesers iets beteken het nie. So wys die navorsing vir ons die volgende interessante sake. Die woord vir opstand wat ons die Grieks kry, is apostasia. Die woord kan vertaal word met Rebellie en word dikwels gebruik vir politieke opstand, en word so deur die geskiedskrywer Josephus gebruik (in sy boek Vita 43) as hy oor die Joodse rebellie teen Rome skryf. Religie en Politiek was nou aan mekaar verbind in die antieke tyd. Die Romeinse keiser as politieke heerser is ook as God aanbid. Die woord apostasia het dus te doen gehad met politieke rebellie en met godsdienstige rebellie. Dit beteken dat die Paulus hier praat van wêreldwye politieke en godsdienstige rebellie wat sal plaasvind. In sekere Joodse dokumente word die eindtyd beskryf as ʼn tyd waarin Israel hulself sal skuldig maak aan apostasia en sal opstaan teen God se wil en die wet van God (vgl. Jubilees 23:14-23). Vir sommige vroeë Christene wat bekend was met die Joodse tradisie was die ontkenning van Christus as Messias en Seun van God deur die Jode ʼn teken dat die einde naby is.

In hierdie tyd, se Paulus, sal die man van wetteloosheid en vernietiging geopenbaar word.  Die woord apokalipsis (openbaar) word gebruik, wat ʼn belangrike woord is omdat Jesus die Seun van God in die Nuwe Testament ook geopenbaar is. Die man van wetteloosheid word geopenbaar, net soos Christus as Seun van God geopenbaar is – daarom is die man van wetteloosheid die presiese teenoorgestelde van die Messias. Geleerdes wat hierop navorsing gedoen het, het ontdek dat die terme wat hier gebruik word alreeds voorkom in die Ou Testamentiese denke (vgl. 2 Samuel 22:5 Psalm 18:4; 17:5; 1 Konings 21:13). Hierdie persoon sal homself verhef bo God en verhef bo alle aanbiddingsplekke. Nou dit is baie interessant, veral as mens dit teen die agtergrond van die gebeure in die antieke tyd lees. In 2 Tessalonisense 2:4 lees ons uitdruklik dat hierdie persoon homself sal plaas op die troon in die heiligdom van God. Die interessante is dat die mense van die eerste eeu na Christus presies geweet het wat hierdie saak behels.  In 40 n.C. het keiser Gaius Caligula gepoog om ʼn reusagtige standbeeld van homself op te rig binne in die heilige tempel van Israel en wou hy die Jode dwing om hom as God te aanbid en as God te verklaar. Daarvan lees ons ook in die antieke geskiedskrywer Philo se groot werke (vgl. Philo Antig 18.261-301). In 2 Tessalonisense 2:7 skryf Paulus aan die gemeente dat die gees van hierdie wetteloosheid al eintlik klaar aan die werk is in die tyd waarin hy die brief skryf (maw die eerste eeu nC). In 2 Tessalonisense 2:8 troos Paulus die gemeente en sê dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie, want God sal die Antichris oorwin – dit is ook die boodskap van Openbaring. Die punt wat ons moet snap is dat ons in die eindtyd leef en dat ons nugter en waaksaam moet wees en dat Jesus enige tyd kan kom. Verder moet ons nie bekommerd wees nie, nie passief raak en moed opgee nie, maar vol verwagting en hoop leef. Om dalk nie te vra wannéér Hy kom nie, maar of ons reg is teen die agtergrond van die feit dat Hy énige oomblik kan kom…

Skrywer: Dr Kobus Kok