Teofilus – Hermie van Zyl

Johan vra:

Was Teofilus ‘n werklike persoon, of is sy naam ‘n aanduiding dat Lukas se boeke geskryf is aan mense wat God (teos) liefhet (filus)?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die naam Teofilus beteken “geliefde of vriend van God”. Dit het die gedagte by sommige geleerdes laat ontstaan dat Teofilus dalk nie ’n werklike persoon was nie, maar dat die naam eerder simbolies verstaan moet word. Dit sou dan aanduiding wees dat die boek gerig is aan almal wat vir God liefhet of vir wie God liefhet, dit wil sê, alle volgelinge van Christus.

Op hierdie punt net eers ’n taalkundig-tegniese opmerking. “Geliefde/vriend van God” kan op twee maniere verstaan word: a. dat God die persoon liefhet, of b. dat die persoon God liefhet. Daar is nie werklik ’n groot verskil tussen die twee opsies nie, maar daar is tog ’n aksentverskil. In die geval van b. is dit goed moontlik dat Teofilus, indien hy ’n werklike persoon was, ’n sogenaamde Godvereerder of Godvresende was. Dis ’n tegniese term vir heidene wat destyds gesimpatiseer het met die Jode en ook die sinagogale dienste bygewoon het, maar om bepaalde redes (nog) nie formeel oorgegaan het tot die Jodedom nie. (Laasgenoemde is proseliete genoem.) Baie van die eerste Christene het uit hierdie groep van Godvresendes gekom (byvoorbeeld Kornelius, Hand 10:1-2). Indien egter opsie a. gevolg word (dat God die persoon liefhet), wat die waarskynlike bedoeling van die naam Teofilus is, is ons nader aan die simboliese betekenis van die naam en sou dit daarop kon dui dat Teofilus nie ’n konkrete, historiese persoon was nie.

Hoe interessant hierdie moontlikheid ook al is, was en is daar onder geleerdes weinig ondersteuning vir Teofilus as fiktiewe persoon met ’n simboliese naam – aanduiding van almal vir wie God lief is, dit wil sê, alle Christene. Hy was eerder ’n werklike persoon. Die redes is soos volg:

Eerstens was Teofilus ’n baie bekende naam onder die Grieke én Jode van destyds. Mense se eerste gedagte sou dus nie gewees het dat die naam fiktief en simbolies is nie, eerder aanduiding van ’n werklike persoon.

Tweedens is die voorwoord van Lukas (1:1-4) so gestruktureer dat dit duidelik is dat die boek, en so ook Handelinge (kyk Hand 1:1), aan Teofilus opgedra is. Een van die oogmerke van die boek was dan om Teofilus noukeuriger te onderrig in die Christelike geloof, waarmee hy waarskynlik reeds bekend was (Luk 1:4) maar wat nog nie in al die besonderhede vir hom duidelik was nie.

Derdens word Teofilus as “hooggeagte” aangespreek. Dit kan ’n blote hoflikheidsaanspreekvorm wees, maar die feit dat beide Feliks en Festus – Romeinse goewerneurs – ook so aangespreek word (Hand 24:2; 26:25 [“U Edele” = “hooggeagte”]), dui daarop dat dit eerder ’n formele titel was. Teofilus was dus heel moontlik ’n hooggeplaaste amptenaar of sosiaal-hoogaangeskrewe persoon. Dit open ook die verdere moontlikheid dat Lukas vir Teofilus as ’n soort uitgewer gebruik het om sy dubbelwerk te finansier en te versprei. Dit was dikwels die geval in die antieke dat vername en vermoënde persone as finansiële borge en “uitgewers” vir geskrifte gedien het. Dit het ook die bykomende voordeel gehad dat as iemand soos Teofilus die werk ondersteun, die inhoud van die boek – die evangelie van Christus, en dus die Christendom – nie as staatsgevaarlik deur die Romeine beskou sou word nie.

Uiteraard het Lukas sy twee boeke nie net vir Teofilus geskryf nie, maar deur hom ook vir alle gelowiges wat dieper kennis van die evangelie wou bekom. Die leserskring van Lukas-Handelinge was dus nie beperk tot Teofilus nie. Maar die punt is dat Teofilus nie ’n fiktiewe, simboliese naam was nie, maar die naam van ’n werklike persoon – ’n hooggeplaaste nie-Jood, moontlik ’n Godvresende, reeds bekend met die basiese feite van die evangelie, maar nog nie goed genoeg ingelig nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl