Terug na die Ou Testament: Allerlei (6)
Terug na die Ou Testament: Allerlei (6) – Adrio König
6.6 Huisskoonmaak en Christelike skole
Daar is soveel kleiner dingetjies wat voortvloei uit die hierdie ingesteldheid van terug na die Ou Testament. Dis uit met feetjies, kaboutertjies en dwergies, met hekse en selfs “liewe heksie”, met Boeddha-beeldjies en nog baie ander goed.
Teen die meeste van hierdie dinge is daar goeie argumente. Maar gooi ‘n mens nie later die baba saam met die badwater uit nie? Ek weet feetjies, kaboutertjies en dwergies toor, en ‘n mens mag nie (probeer) toor nie. Maar is hierdie “toor” regtig toor, die soort wat verkeerd is? Hoe ver verskil dit van dagdrome?
‘n Kind van omtrent tien jaar lê en droom. Hy kry ‘n miljoen rand onder ‘n klip. En wat kan hy nie alles koop nie. En wat kan hy nie alles doen nie. En waarheen kan hy nie oral reis nie. Na kammaland. En daar hang die lekkers soos perskes aan die bome!
Hoe ver is dit van die feetjies se “toor” af? Moet “kammaland” se bootjie dan ook uit?
Sou dit nie dalk juis goed kon wees dat kinders hierdie feeverhale hoor en geniet, en dan terugkom in die gewone lewe en uitvind die lewe werk nie so nie?
En die Boeddha-beeldjies? Ek hoor die gevaar is dat hierdie beeldjie jou huis onder ‘n bose mag bring. Moet ek wens dit is waar? Dan kry ek net ‘n paar honderd klein Nuwe Testamentjies en versteek hulle in Boeddhiste se bagasie, en hulle is onder die mag van Jesus.
Daar is erger verhale in die Bybel as enigiets wat by huisskoonmaak betrokke is. Maar ons leer ons kinders om sinvol, met onderskeiding, na die Bybelverhale te kyk. En selfs dit is nie altyd so maklik nie.
Kan ‘n mens nie maar sinvol, krities met hierdie dinge omgaan nie? Sê nou ek gebruik hierdie Boeddha-beeldjie om my elke dag te herinner om vir hierdie mense te bid, en iewers betrokke te raak by die sending onder hulle?
Sê nou Rooikappie leer my kind om versigtig te wees en seker te maak?
Tuisonderrig En dan die tuisonderrig. Daar is sekerlik situasies waarin dit wonderlik is om dit te mag doen. Daar is mense wat eenvoudig te ver van die naaste skool af is. En daar sal ander situasies ook wees.
Maar die beginsel? En raak dieselfde beginsel nie ook die Christelike skole nie?
Wat doen ons? Haal ons nie ons kinders uit die hoofstroomsamelewing uit, en maak hulle groot in ‘n groepie wat nie weerspieël wat in die wêreld aangaan waarin hulle eendag moet leef nie? Is dit nie deel van oorbeskerming, en dan ten koste van die kind se blootstelling aan die werklike wêreld nie? Gaan hulle in staat wees om die stampe en stote van die samelewing te hanteer as hulle nie daarmee groot geword het nie?
En is daar nie selfs veel meer op die spel nie?
- Onderskat ons nie kinders as ‘n evangelisasiemag nie?
- Onderskat ons nie die vermoë van ons jong kinders wat die Here Jesus ken om standpunt in te neem en ander te beïnvloed nie?
- Onderskat ons nie die vermoë van kleintjies wat Jesus ken en liefhet om dit met maatjies te deel en hulle lus te maak om Hom te ken nie?
- Ontneem ons nie die kinders wat in openbare skole sonder Hom grootword die geleentheid om spontaan van Hom te hoor nie?
- Ontneem ons nie ons eie kinders die heerlike voorreg om ander na Jesus te lei nie?
- Stroop ons nie ons openbare skole van ‘n eg Christelike element nie?
- Is ons nie bang Christene in plaas van dapper Christene nie?
- En maak ons nie ons kinders só groot nie?
- Glo ons meer aan die krag van die duiwel om ons kinders te verlei, as aan die krag van die Gees om hulle nie net weerbaar te maak nie, maar aanvalsoldate vir Jesus?
Skrywer: Prof Adrio König