Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5)
Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5) – Adrio König
7.5 Los opmerkings
Daar is ‘n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie.
Daar is twee groepe kerke.
- Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop.
- Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.
Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees.
Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprenkeling.
- Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling.
- Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.
Maar daar is mense wat nie daarvan bewus is nie, wat oortuig is hierdie groep kerke doop net deur besprinkeling. Gelukkig sê die Gereformeerde doopsformulier duidelik dit kan ook onderdompeling wees.
‘n Kerk behoort mense ‘n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop.
Die Christelike doop behoort net een keer aan ‘n persoon bedien te word. Die “een keer” het direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel in die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie.
Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word.
Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ‘n tyd lank het doop en besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21).
Die besnydenis het ‘n diep geestelike betekenis gehad. Ons lees van die besnydenis van die hart, lippe en ore (Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 9:25-26; Eseg 44:7, 9), dit beteken die vernuwing van ‘n mens se lewe. Deur die besnydenis is mense opgeneem in die Abrahamverbond waarin hulle hierdie nuwe lewe moes leef. Die doop het dieselfde betekenis. Ons word deur die doop opgeneem in die verbond met Abraham om as gedooptes ‘n nuwe lewe te lei (Gal 3:27-29). Daar is dus verband tussen die betekenis van die doop en die betekenis van die besnydenis
Maar die doop het ‘n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons vergifnis en reiniging van sonde.
Maar daar is nóg meer. Deur die doop word ons só met Christus verenig dat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Dit is iets nuuts in die Nuwe Testament sodat hierdie betekenis nie kan aansluit by enigiets in die Ou Testament soos die besnydenis en die versoendag nie. Dit is eenvoudig die plus van die doop bo enigiets in die Ou Testament. En miskien is juis dít die wonderlikste betekenis van die doop.
Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Al drie is “doop” genoem, al drie is met water gedoen. Wat uniek is in die Christelike doop is die doopformule: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. ‘n Doop waarby hierdie formule nie gebruik is nie, kan nie beskou word as ‘n Christelike doop nie. En dis duidelik dat Johannes die doper ook nie hierdie formule gebruik het nie.
Wanneer Jesus die doopbevel gee, gebruik Hy hierdie formule. Dit onderskei juis die Christelike doop van Johannes s’n. Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop. Hy het mense gedoop is deel van hulle getuienis dat hulle hulle bekeer het. Maar in die Christelike doop gaan dit om dit wat God doen. Daarom word dit in die Naam van God bedien. Om God se Naam oor iemand uit te roep, is om sy gesag oor iemand af te kondig.
Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen.
Skrywer: Prof Adrio König