Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4)
Terug na die Ou Testament: Die Feeste (4) – Adrio König
3.2.3 Die laaste drie feeste
Intussen is daar nog drie feeste wat dan nog nie vervul sou wees nie:
- die fees van die ramshorings.
- Die groot versoendag.
- Die (loof-)huttefees.
Dit sou dan die feeste wees wat vervul gaan word by die wederkoms van Christus.
Hierdie feeste word in die najaar gevier, al drie binne 15 dae.
Die fees van die ramshorings of die trompetfees Daar is meer besonderhede oor hierdie fees in Numeri 29:1-6. Dit word soms die nuwejaarsfees genoem alhoewel dit nie so in die Bybel genoem word nie, en hier ook geen aanduidings is dat dit die betekenis van hierdie fees is nie. Dit was ‘n vreugdefees wat aangekondig moes word met ramshorings of trompette. Daar moes offers aan die Here gebring word.
Hierdie fees sou dan die voorteken wees van die wegraping omdat ons in die Nuwe Testament lees van die trompet van God wat sal weerklink wanneer Christus kom (1 Kor 15:52; 1 Tes 4:16). Verder sou die tien dae tussen hierdie fees en die groot versoendag sinspeel op die tien dae verdrukking van Openbaring 2:10 wat ‘n simbool vir die groot verdrukking ná die wegraping sou wees.
Maar dié soort verwysings kan darem nie werk nie. Hierdie fees het eenvoudig nie hierdie betekenis in die Ou Testament nie. Nóg in die Ou Testament, nóg in die Nuwe is daar enige verwysings of sinspelings daarop dat hierdie gegewens oor die fees (die trompet en die tien dae) na iets in die toekoms verwys. En nêrens in die Nuwe Testament is daar enige aanduiding dat hierdie gegewens (die trompet en die tien dae) na die koms van Christus of die verdrukking verwys nie. Dit beteken dat daar iets willekeurigs in hierdie aansprake is.
Die groot versoendag Dit is die dag waarop daar versoening gedoen moes word vir die hele volk se sonde. ‘n Bul, twee bokramme en een skaapram moes geoffer word (Lev 16). Die bul word eerste geoffer vir die sonde van die priesters, en dan die bokke vir die sonde van die volk. Daar is nog heelwat besonderhede oor presies hoe daar versoening vir sonde gedoen moes word. Immers versoening van sonde is waaroor hierdie dag gaan.
Volgens die mense wat wil terug na die Ou Testament is hierdie fees ‘n vooruitwysing na die wederkoms van Christus. Maar ‘n mens sal natuurlik dadelik vra of dit nie eerder verband kan hou met die kruisoffer vir ons sonde nie. Het die wederkoms te doen met ‘n offer vir ons sonde?
Ja, is die antwoord. Op die dag van sy wederkoms sal die Here Jesus die sonde van Israel beëindig. Hiervolgens verteenwoordig hierdie versoendag eintlik die behoefte aan versoening vir die volk Israel, en dit word dan deur Jesus vervul. Vooraf, tydens die bruilof van die Lam, wat direk ná die wegraping gevier sal word, sal Jesus ook as sodanig erken en geëer word.
Maar is dit nie erg gedronge nie? Dit het by die groot versoendag nie gegaan oor die behoefte aan versoening nie, maar oor versoening. Daar is die volk se sonde versoen. Daar staan niks daarvan dat hulle sonde eers beëindig sal word by die wederkoms van Jesus nie. Ook nie in die Nuwe Testament nie.
Verder word interessante ooreenkomste getref tussen
- die nederige klere van die priester op daardie dag, en Jesus wat in nederigheid gekom het,
- die wit klere van die priester en die reinheid van Jesus,
- die offer wat eers vir die sonde van die volk gebring moes word en die sondeloosheid van Jesus.
Maar daar word nêrens in die Bybel enige verbande gelê tussen hierdie dinge nie. Ek sou nou regtig kon dink ‘n mens kan probeer om ‘n verband te lê tussen die groot versoendag en die kruisiging van Jesus. Maar ek het selfs dit nog nie in die Bybel raakgesien nie.
Die huttefees Dit is die sewende en laaste van die feeste in Levitikus 23. Die volk moet vir sewe dae in hutte woon wat van blare en takke gemaak is. Die doel van die fees word uitdruklik uitgespel: “dat julle nageslag moet onthou dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipte laat trek het” (Lev 23:43).
Daar word taamlik algemeen aanvaar dat hierdie fees ‘n voorskou is van die duisend jaar van vrede wat begin by Jesus se wederkoms. Die woon in hutte sou dan heenwys na Jesus wat op die aarde kom woon. Dit sou dan natuurlik nog nie die nuwe aarde wees nie. Volgens hierdie siening sal die nuwe aarde eers kom ná die duisend jaar en na die duiwel in die vuuroond gegooi is.
Net twee opmerkings. Daar is nie veel ooreenkoms tussen die hutte waarin Israel tydens hierdie fees gewoon het, en die paleis van Dawid waar Jesus in Jerusalem sou gaan woon tydens die vrederyk nie.
En verder is dit opvallend dat hierdie mense glo die feeste is ‘n voorskou van die hele verlossingsplan van God, maar die laaste fees wys net na die duisend jaar. Eindig God se verlossingsplan met die vrederyk op die ou aarde, of op die nuwe aarde?
As ‘n mens terugkyk op die pad wat ons die afgelope aantal bladsye geloop het, is dit nie oortuigend nie. Dit is gedronge. Daar word ten alle koste gegryp na vreemde soorte van ooreenkomste. Daar is die absolute minimum Bybelse verwysings waarvan die meeste eenvoudig nie sê wat hulle veronderstel is om te sê nie.
- Daar is geen aanduidings in die Ou Testament dat hierdie feeste hierdie betekenis het nie.
- En die Nuwe Testament verwys ook nie terug na hierdie feeste as ‘n soort belofte van dit wat in Jesus se lewe gebeur nie.
Volgende keer die vraag: Moet Christene nog hierdie feeste vier?
Skrywer: Prof Adrio König