Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Die Feeste (5) – Adrio König

3.3 Moet Christene nog dié feeste vier?

Dit is ‘n tweede vraag oor die feeste. Sommige eis dat alle Christene en Messiaanse Jode nog die feeste moet vier.

 

Maar het die feeste nie maar net dieselfde pad geloop as die Sabbat nie? Het hulle nie eenvoudig ná Jesus se opstanding geleidelik verdwyn uit die lewe van die Christene nie, net soos die Sabbat?

Ná Jesus se opstanding word daar nie weer na enige van die feeste verwys nie, behalwe drie keer na die pinksterfees en een keer na die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6).

  • Die Heilige Gees is op die Ou Testament se pinksterfees uitgestort (Hand 2).
  • Die pinksterfees as ‘n blote tydsaanduiding (1 Kor 16:8).
  • Paulus se begeerte om vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (Hand 20:16).
  • Die fees van die ongesuurde brode as ‘n blote tydsaanduiding (Hand 20:6).

 

Dit is nie vreemd dat Paulus wel nog ‘n keer by die pinksterfees wil wees nie. Ons vergeet maklik dat die vroeë Christene Jode was wat eintlik net van die ander Jode verskil het in hulle oortuiging dat die Messias al gekom het. Hulle het aanvanklik nog tempel toe gegaan (Hand 3), sommige het selfs nog taamlik lank hulle seuntjies besny en die gewone “Joodse gebruike” onderhou ( Hand 21:21).

 

Maar twee belangrike dinge het geleidelik gebeur. 

  • Hulle het verwyder geraak van die Joodse leiers en van die Joodse godsdiensgemeenskap omdat die Jode hulle al meer vervolg het (Hand 20-26).
  • Hulle het los geraak van die tempel, die wet en al die “Joodse gebruike”. Dit het baie ingesluit: die besnydenis, die Sabbat, die feeste, die tempelkultus (priesters, offers).

 

En is Paulus nie baie duidelik daaroor nie?

 

Ons het reeds gekyk na sy houding oor die Sabbat (hoofstuk 2). En nou die feeste. Hy bespreek nooit die feeste breedvoerig nie. Daar is eintlik net twee spesifieke opmerkings (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17).

 

Kolossense is ‘n sagter uitspraak as Galasiërs. In Kolossense vermaan hy die gemeente om hulle nie te laat voorskryf om sekere gebruike na te kom nie, terwyl hy in Galasiërs die vrees uitspreek dat hy dalk tevergeefs die evangelie aan die gemeente verkondig het as hulle met die feeste voortgaan.

 

Waarom is hy sagter in Kolossense? Is dit omdat die situasies in die twee Briewe verskil?

 

In Galasiërs was dit ‘n radikale saak: Geloof in Jesus sonder die wet of saam met die wet. En sy antwoord was radikaal: Christus óf die wet. Waarom so radikaal? Omdat dit gegaan het oor die vraag hoe mense gered word. Indien die wet by Christus moet bykom om ons redding te verseker, beteken dit dat Hy nie volle voorsiening gemaak het vir ons redding nie. Dit onteer Hom. Daarom is dit uit.

 

Dit beteken om nog te besny of die feeste te vier, is uit.

 

Maar in Kolossense is die posisie nie so radikaal nie. Die groot saak in hierdie Brief is nie die wet nie. Daarom kom die sabbat en die feeste meer terloops ter sprake. Dit kom nie voor in die verband van hoe mens gered word nie, maar hoe ‘n gelowige leef. En dan is Paulus se posisie eerder iets soos: Dis nie meer nodig nie. Sou dit beteken indien gelowiges tog gekies het om daarmee voort te gaan, hy inskiklik sou wees?

 

Miskien. Maar dit sou tog vreemd wees. Hy noem daar die voedselvoorskrifte, die sabbat en die feeste ‘n skaduwee, terwyl die werklikheid Christus is. Dit sou tog vreemd wees om aan ‘n skaduwee vas te hou as die een wie se skaduwee dit is, gekom het! 

 

Hebreërs stel dieselfde saak nog sterker. Hy is ook met die wet besig, hierdie keer in die vorm van die tempelkultus. Volgens hom is die wet van Moses nie eens ‘n werklike beeld van die heil wat deur Christus gekom het nie, maar “net ‘n skadubeeld” (10:1). Negatiewer kan dit amper nie. Dan het dit geen sin om daarmee voort te gaan nie.  

 

Skaduwee  Maar nou word die gedagte dat die wet ‘n skaduwee was wat vooruitgewys het na Christus, soms juis positief deur hierdie Christene gebruik. Dit word veral in verband met die feeste gebruik. Dit sou beteken dat die feeste vooraf die hele heilsplan van God afgebeeld het. Een vir een sou ‘n mens in die afsonderlike feeste na die groot heilsdade kon kyk.

 

Na die vraag of die feeste wel die groot heilsdade voorafskadu, het ons reeds gekyk (3.2). 

 

Maar nou kyk ons na Paulus en Hebreërs se gebruik van die begrip “skaduwee”. In beide Kolossense en Hebreërs word dit in ‘n negatiewe sin gebruik om te sê hulle het hulle waarde verloor, hulle word vervang met Jesus self. En nêrens word gesê dat hulle inderdaad dié besondere betekenis gehad het om een-een na die groot heilsdade te verwys nie.

 

Daar is nie regtig ‘n verantwoordelike manier om die sterk uitsprake van Paulus téén die feeste soveel te versag dat Christene maar kan aanhou daarmee nie.

 

Sabbat en feeste op die nuwe aarde?

Op twee plekke in die Ou Testament lees ons iets hiervan:

Jesaja 66:22-23: “Elke nuwemaansfees en elke sabbat sal al wat leef voor My in aanbidding kom buig.” Dit staan in die oudste gedeelte wat handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Sagaria 14:16-19. Hier word geskryf dat iewers in die toekoms die huttefees gevier sal word. Dit is nie duidelik na watter geleentheid verwys word nie, maar dis in die toekoms.

 

Hieruit lei sommige dan af dat die Sabbat en die feeste nou nog gevier moet word omdat hulle in die toekoms, en selfs op die nuwe aarde nog gevier sal word.

 

Die vraag is of ons nie hier die tipiese verskynsel het dat iemand in die taal van sy of haar tyd iets oor die toekoms sê, terwyl dit nie noodwendig presies só sal wees wanneer dit gebeur nie.

 

Kom ons kyk na ‘n uitspraak van Jesus in die Evangelies. Hy stuur die dissipels uit op ‘n sending onder Israel (Matt 10:16-23). Dit is ‘n sending wat nie voltooi sal word voor sy wederkoms nie (10:23). En dan verklaar Hy dat hulle vervolg sal word en in die sinagoges gegésel sal word. Die uitspraak moet ook vir ons tyd geld, die tyd voor sy wederkoms. Maar daar word nie meer mense in sinagoges in Israel gegésel nie. Maar Jesus het die toekomstige vervolging uitgedruk in die terme van sy tyd.

 

Jesus vertel die gelykenis van die tien meisies wat vir die bruidegom wag (Matt 25:1-13). Dit gaan ook oor sy wederkoms. Hulle wag met olielampe. Maar dit beteken tog nie mense sal nog olielampe gebruik by die wederkoms nie. Jesus praat oor die toekoms in terme van sy tyd.     

 

Wil God in Jesaja en Sagaria nie maar net in terme van daardie tyd sê dat Hy in die toekoms gedien sal word nie?

 

Skrywer:  Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...