Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1)
Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (1) – Adrio König
5 Net die Hebreeuse Name van God en Jesus?
5.1 Die oorspronklike Bybeltale
Dit is ‘n tendens wat ook by sommige Christene voorkom. Hulle is oortuig dat hulle die presiese Hebreeuse name van God en van Jesus moet gebruik. Hierdie oorspronklike Name word deur verskillende groepe op verskillende maniere gespel en uitgespreek.
Die Naam van God: Jahwe Die spellingwyses wat deur die verskillende groepe aangegee word, is onder andere Jehova, Jahwe, Jahweh, Jahueh, Jahuweh.
Die Naam: Jesus “Jesus” is eintlik die Afrikaanse weergawe van die Griekse vorm van Jesus se Naam wat in Grieks as “Jêsoes” uitgespreek word. Maar in Hebreeus was dit dieselfde naam as “Josua” van die Ou Testament. Groepe se uitspraak wissel: Jehoshua, Jahushua, Jeshua of Jahüah.
Daar word verskillende redes aangegee waarom God en Jesus se name net in hierdie oorspronklike vorm gebruik mag word. Dis uit eerbied, of omdat dit die “geïnspireerde” Name is. Dit is immers die name wat ons in die Hebreeus van die Ou Testament kry.
Moet ‘n mens dit regtig só aanvaar?
Die Bybel is in twee verskillende tale geskryf, die Ou Testament in Hebreeus (en ‘n paar dele in Aramees), en die Nuwe Testament in Grieks. Dit beteken dat beide God en Jesus se Name in twee tale voorkom.
- God se naam kom in die Ou Testament voor as “Jahwe” en in die Nuwe as “Kurios”. Ons ken dit as :”Here”.
- Jesus se Naam kom in die Ou Testament voor as Jehoshua (Josua in Afrikaans). Maar in die Nuwe Testament kom dit voor in die Griekse vorm: Jêsous. Sy tydgenote het Hom waarskynlik Jehoshua genoem (hulle het Hebreeus, of liewer Aramees gepraat), maar in die Nuwe Testament word Hy Jêsoes genoem.
Van sowel God se Naam as Jesus se Naam het ons dus in die Bybel twee vorms, een in die Hebreeuse Ou Testament, en een in die Griekse Nuwe Testament.
Waarom sou ons nou juis die Hebreeuse vorms moet gebruik? Die Griekse vorms staan mos ook in die Bybel, net in ‘n ander deel van die Bybel.
Sommige is egter oortuig dat die Nuwe Testament in werklikheid oorspronklik ook in Hebreeus geskryf is, en later eers na Grieks vertaal is. En hierdie vertalers sou dan die fout gemaak het om die Name in Grieks te vertaal. Albei Name moes presies in hulle Hebreeuse vorm behoue gebly het omdat dit die oorspronklike Hebreeuse vorms is. En ons mag net hierdie geïnspireerde vorms gebruik.
Maar die Nuwe Testament is nie oorspronklik in Hebreeus geskryf nie. Waarom sou Paulus vir ‘n gemeente in Griekeland (byvoorbeeld die gemeente in Korinte of in Tessalonika) in Hebreeus geskryf het as die gemeentelede Grieks gepraat het en sekerlik nie eens Hebreeus kon lees nie? Waarom sou Lukas, wat vir die Griek Teofilus skryf, in Hebreeus vir hom skryf?
Grieks was die spreektaal rondom die Middellandse See, en dit is waarheen die evangelie versprei het. Daarom is dit eintlik vanselfsprekend dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Selfs die Brief aan die Hebreërs wat aan Joodse Christene geskryf is, is in Grieks geskryf.
Trouens wanneer die skrywers van die Nuwe Testament uit die Ou Testament aanhaal, haal hulle by voorkeur uit die Griekse vertaling van die Ou Testament aan omdat hulle juis hierdie vertaling in hulle sendingwerk moes gebruik. Ons moet immers onthou dat baie van die Jode teen hierdie tyd al so lank ingeburger was in vreemde lande rondom die Middellandse See, dat Grieks hulle omgangstaal was en baie van hulle glad nie eens meer Hebreeus geken het nie. Hulle het dus glad nie meer in hulle Bybel die Hebreeuse name van God en Jesus gekry nie.
Skrywer: Prof Adrio König