Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (2)
Terug na die Ou Testament: Hebreeuse name van God en Jesus (2) – Adrio König
5.2 Die Septuagint
Kom ons dink net ‘n oomblik terug aan die ontstaan van hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint. Dit is deur die Jode self gemaak, waarskynlik so ongeveer twee eeue voor die geboorte van Jesus. Waarom? Baie Jode het geëmigreer en iewers in die buiteland geleef. Hulle kinders het op skool Grieks geleer, wat die algemene omgangstaal rondom die Middellandse See was. Na twee of drie geslagte het die kinders eenvoudig nie meer Hebreeus geken nie. Dit was dus eintlik uit nood, sodat die buitelandse Jode net weer hulle Bybel kon lees, dat die Jode toe die Ou Testament in Grieks vertaal het.
Dit beteken dat Paulus glad nie net vir die heidene wat tot bekering gekom het, Grieks geskryf het nie, maar ook terwille van die Jode self wat Hy op die sabbat in die sinagoge gekry het! In baie gevalle het die Jode selfs Grieks gebruik tydens hulle byeenkomste in die sinagoge – terwille van hulle eie kinders en die heidene wat hulle byeenkomste bygewoon het.
Dink maar net wat gebeur met Afrikaanssprekendes wat vandag in die tweede of derde geslag in die buiteland bly.
5.3 Jahwe – Here?
Dit alles beteken onder andere dat die skrywers van die Nuwe Testament nie self die Griekse vertaling van God se Naam “Here” (kourios, uitgespreek as koerios) uitgedink het nie, maar eenvoudig die woord gebruik het wat al ‘n paar eeue lank in die Septuagint gestaan het en deur die buitelandse Jode gebruik is.
‘n Mens kan nogal ‘n bietjie kyk na hierdie vertaling. Die Septuagint vertaal die Hebreeuse Naam “Jahwe” met die Grieks “Kourios” – Here. Jahwe is ‘n naam, maar Kourios is ‘n titel. Waar kom so ‘n vertaling vandaan?
Die Jode het teen hierdie tyd – twee eeue voor Christus – lankal nie meer God se Naam uitgespreek nie. Hulle was bang hulle oortree die derde gebod. Hulle het later eenvoudig nie meer geweet wat die uitspraak was nie, omdat hulle Bybel net medeklinkers gehad het, en geen klinkers nie. Daar het dus net jhw gestaan. Vroeër het mense gedink dit was Jehowa. Vandag weet ons (maar net met redelike sekerheid” dat die iets soos Jahwe was, eintlik Jagwe met ‘n sagte g.)
Dink terloops net hoe goed hulle die Ou Testament moes geken het dat hulle dit sonder klinkers kon lees. Vra iemand om ‘n deel uit die Ou Testament oor te skryf sonder die klinkers, en kyk hoe ver kom jy!
In die Septuagint is jhw dus vertaal met Kourios, Here, ‘n Griekse woord wat iets beteken soos baas, eienaar, die een in beheer. Waar het hulle dit gekry?
Hulle het die Hebreeuse woord vertaal wat die Jode gelees (uitgespreek) het as hulle by die Naam jhw in die Bybel gekom het. Soms het hulle net die Hebreeuse woord vir “Naam” gelees (sheem), maar meestal die Hebreeuse woord “adonai” wat baas, eienaar, die een in beheer beteken. Dit is natuurlik baie jammer want met hierdie vertaling het die gevoel dat God ‘n eienaam het, eintlik verlore gegaan.
Twee dinge het nou hieruit voortgekom. Die skrywers van die Nuwe Testament het eenvoudig hierdie vertaling by die Septuagint oorgeneem en God se naam in die Nuwe Testament as Kourios (wat ons ken as “Here”) vertaal in plaas van Jahwe. Waarom? Wel, hulle het natuurlik self nie geweet hoe sy Naam oorspronklik uitgespreek was nie. Dus het hulle ook nie veel van ‘n keuse gehad het nie.
Maar presies dieselfde het toe ook in ons vertalings van die Ou Testament gebeur. Alhoewel daar in die Hebreeus Jahwe staan, is dit deurgaans met “Here” (Lord, Herr) vertaal en nie as Jahwe behou nie. En die hele westerse wêreld het dit gedoen. Dis interessant dat die vertalings in Afrikatale vroeg in die vorige eeu, die Naam behou het in die ou Engelse vorm van Jehovah.
Dit is dus jammer dat ons nie meer in ons vertalings van die Ou Testament iets soos “Jahwe” in plaas van “Here” het nie, en daarom is dit so lekker om byvoorbeeld die NJB te lees waarin dit wel gebruik word. En natuurlik kan ‘n mens dit ook persoonlik doen.
Maar of dit ‘n verpligting moet wees, is ‘n ander vraag wat ons later sal bespreek.
Skrywer: Prof Adrio König