Tipologie

image_pdfimage_print

Tipologie – Francois Malan

Eugenie vra:

Ek sal graag inligting/verwysings wil bestudeer van hoe die Ou Testament tipologies van die Nuwe Testament is, bv. Daniel – Openbaring, Die ark – Christus, ens.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Bybelse sin verstaan ons tipe as ‘n Ou-Testamentiese figuur, wat in sy persoon of werk ‘n sekere skadubeeld, of afspieëling, vertoon van Christus se persoon of werk.

So is priesters, profete en konings van Israel volgens hulle ampte beskou as tipe van die komende Messias (die Hebreeuse woord vir ‘gesalfde’, in Grieks ‘Christus’). Priesters is gesalf (Eks.30:30) en konings is gesalf (1 Sam.9:16). Moses is ‘n profeet genoem in die profesie dat die Here ‘n profeet soos Moses na vore sal laat kom (Deutr.18:18). Petrus verwys daarna toe hy die volk toespreek en verklaar dat Jesus die beloofde profeet is (Hand.3:22). Jesus is die profeet, priester en koning van God se volk by uitnemendheid, die gesalfde van die Here (Hand.4:26 wat Ps.2:1-2 aanhaal). Jesus vergelyk bv. sy drie dae dood met die profeet Jona se drie dae in die maag van ‘n groot vis (Mat.12:40). Hebr.10:21 noem Hom die groot priester (vgl. ook 5:6,7; 7:17,21). Jesus is die koning (Mat.2:2; Joh.1:50); die koning van die konings (Openb.17:14). So word Jesus gesien as die tweede Adam (1 Kor.15:45; Rom.5:14 letterlik: Adam wat ‘n tipe was van die Een wat sou kom, NAV daar is ‘n ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom), as die seun van Dawid (Mat.22:43-45; Joh.7:42; Rom.1:3), as die Kneg van die Here van Jes.52-53 (Mt.8:8; Lk 7:7; Flp.2:7).

Daar is ‘n verskil tussen ‘n tipe en ‘n simbool. ‘n Simbool het veral betrekking op sake, ‘n tipe uitsluitlik op persone. Die simbool het geen betekenis in sigself en in sy verskyningsvorms nie, maar in wat daardeur afgeskadu of afgebeeld word. ‘n Tipe het egter betekenis in sigself, in sy eie bestaan, afgesien van wat hy afbeeld en tipeer.

‘n Simbool kan ‘n voorwerp, woord, teken, ens. wees, as voorstelling van ‘n bepaalde begrip. Dit is ‘n sinnebeeld – ‘n sinlik waarneembare aanduiding van ‘n geestelike begrip, ‘n voorwerp waaraan betekenis gegee word. Die kruis is bv. simbool van Christus se lyding en dood, van die gelowige se sterwe aan homself, van die Christendom. Die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van die Israeliete gesmeer is sodat die doodsengel die huis sou ‘oorslaan’ (‘passover’, Eks.12:13) word bv. deur Paulus in 1 Kor 5:7 op Christus toegepas as ons paaslam, vgl. Jn 1:29; 1 Petr.1:19; Openb.5:6,12; 7:14; 12:11; 13:8, ens.

Die vraag oor die ark en Christus is meer ‘n simbool. Die Hebreeuse woord vir ark (teba) beteken kis of doodkis. Daarop sinspeel 1 Petr.3:18-21, dat Jesus in die dood ingegaan het en opgestaan het uit die dood (doodskis), en dat ons gered word soos Noag en sy gesin in die ark (doodskis) te midde van die water, en ons doop in Christus beteken ook dat ons saam met Hom sterwe en dat ons gered word deurdat ons saam met hom opstaan tot ‘n nuwe lewe, waarvan die doopwater ‘n simbool is (vgl. Rom.6:3-11). In 1 Kor.10:1-6 word die wolk, manna, water uit die rots as voorbeelde en waarskuwings gebruik (die Griekse woord vir ‘voorbeelde’ is ook tupoi.)

Ook die vraag oor Daniël en Openbaring val meer op die terrein van ‘n simbool. Altwee het ‘n apokaliptiese (openbarings) perspektief, wat God se groot uitkoms verwag, as ‘n ingrype van God in die geskiedenis. Dit is deel van ‘n wye apokaliptiese (openbarings) literatuur wat veral in tye van verdrukking van gelowiges geskryf is in Ou- en Nuwe -Testamentiese tye.

Daniël maak gebruik van diere-simbole, bv. die vier diere, ‘n leeu, ‘n beer, ‘n luiperd en ‘n vreeslike vierde dier sonder naam (hfs.7), ‘n ram en ‘n bok in hfs.8. Daar is ook plant-simbole, bv. boom van die lewe in hfs.4, verskillende metale in hfs.2, sterre 12:3, engele hfs.10, en getalle, wat ‘n belangrike rol speel. Die wêreldgeskiedenis word in eras of eeue verdeel, gebaseer op die getal sewe. Nommer 10 is ook belangrik. Albei 7 en 10 word gebruik om volmaaktheid/voltooidheid of beperktheid uit te druk. Die metafore in Daniël het verskillende waardes. Party is simbolies van aard, terwyl ander na spesifieke persone en gebeure verwys. Die boek Daniël gebruik allegoriese (sinnebeeldige) metodes om die geheimenisse te interpreteer. Die verskillende diere en metale word verklaar as spesifieke konings (8:20). Mat.28:18 (vgl. Lk.1:33; Openb.11:15) verbind die mag van die opgestane Jesus met die magte van die menslike wese van Dan.7:14, en Dan.2:44-45 se klip word ‘n simbool van die koninkryk van God wat Jesus op aarde kom vestig het, waarvan Jesus die koning is en Hy dwarsdeur die NT as koning gesien word.

Ook Openbaring maak gebruik van diere-simbole: die lam (hfs.5,14), draak (hfs.12), diere uit die aarde as lam en draak, en uit die see as bok, luiperd, beer, leeu (hfs 13), perde (hfs.6,19), metale: geel koper (hfs.1) ystersepter (hfs.2), goue krone (hfs 4), edelstene (hfs.21), plante: bome (hfs.22); sterre (1:16,20; 2:1; 3:1;; 8:10,11,12; 9:1; 12:1) môrester (2:28; 22:16), engele dwarsdeur die boek (hfs 1,2,3,5,7,8,9,10,11,12,14,16,17,18,19,21,22), en getalle: 2 getuies, 3 trompette, weë, 4 wesens, engele, hoeke van die aarde, winde, 6 se onvolmaaktheid (7-1=6), 7 vir volledigheid of volkomenheid: gemeentes, lampe, sterre, Geeste, seëls, trompette, bakke, plae, horings, engele, donderslae, koppe van die dier, krone, oë, berge, konings; 8 een meer as die volmaakte vir Jesus, 10 afgerondheid: vingers, dae van verdrukking, draak se horings, konings, 10x10x10=1000, 12 vir die volk van God of die kerk: 12 sterre van die vrou, 12 poorte van die nuwe Jerusalem, 12 apostels, elke stam van Israel 12000, 12x12x1000= 144,000 gelowiges, 12×3 getal vir God x 4 getal vir die skepping druk die volheid van God se plan simbolies uit; 3½ twee getuies soveel dae dood, vrou 3½ jaar versorg in die woestyn, 666 as getallewaarde vir die Griekse en Hebreeus letters van die alfabet vir keiser Nero.

In hulle gebruik van simbole is die boek Daniël ‘n voorloper van Openbaring, maar dit is nie werklik tipologies nie.

Die Ou-Testamentiese geskrifte is egter deur Jesus Christus en die apostels en die vroeë kerk beskou as ‘n versameling van voorspellings wat na Hom verwys as die verlosser van Israel en van die wêreld, al noem die Ou Testament Jesus nêrens nie, en al het die Ou-Testamentiese skrywers nie so ‘n man soos die Jesus wat die Evangelies en die Briewe voorsien nie. Die Ou Testament kan egter slegs gelees word as ‘n boek met immer groeiende verwagting. Die belofte van ‘n land aan die vaders voor Moses, die gedeeltelike inname van die land deur Josua, die bevestiging van die koningskap en priesterskap wat nooit voltooi word nie, maar steeds uitsien na ‘n nuwe verbond deur die profete, hoe die verlossingsdade van die Here, veral die verlossing uit Egipte, die profete laat uitsien na ‘n nuwe Dawid, ‘n nuwe Eksodus, ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe stad van God, waardeur die oue ‘n tipe van die nuwe word wat vooruit wys (Jer.31:31; 32:40 voor die ballingskap, en Eseg.16:60; 34:25; 37:26 in die ballingskap). Dit word dan opgeneem in die Nuwe Testament deur Jesus (Luk.22:20; Paulus 1 Kor 11:25; 2 Kor.3:6; Hebreërs 8:6-13;9:15; 12:24). Die Ou-Testamentiese wet en erediens met sy offers en priesters word deur Hebreërs beskou as slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom (8:5; 9:23; 10:1), ‘n voorafskaduwing van wat kom, soos die skaduwee van iemand wat om die hoek kom – as hyself om die hoek kom, kyk jy nie meer nie die skaduwee nie, maar na homself.

Die Ou-Testamentiese profete se belangstelling was verdiep in God se nuwe verlossings aksie, waarvan hulle slegs die tekens gesien het, en waarvan die ou Dawid, Eksodus, verbond, stad van God ‘n tipe geword het van die nuwe wat nog kom. In verband met die saligheid wat die opstanding van Christus gebring het sê 1 Petrus 1:10-12 dat die profete die genade wat ons nou ontvang het deeglik en noukeurig ondersoek het, dat dit die Gees van Christus was wat in hulle was, wat vooruit verkondig het dat Christus moet ly en daarna verheerlik word. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle profeteer, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir ons wat in Jesus glo. Jesus bring ‘n nuwe manier van verklaring van die Ou Testament, waarin alles van die Ou Testament na Christus wys (Luk.24:27; Joh.1:45; 5:46). Elke bladsy van die Nuwe Testament weerklink met die wete dat ons in ‘n nuwe bedeling van God se aktiwiteit lewe. Soms word dit genoem die tyd van vervulling (Gal. 4:4; Luk.4:21; Mat. 11:4-6). Die Ou Testament word nou gelees as God se openbaring wat die voorloper is van Christus se koms, vol aanwysings na die Here wat aan die kom is. En die boeke van die Nuwe Testament haal telkens gedeeltes uit die Ou Testament aan ter stawing en verduideliking van wat hulle sê, kyk maar na al die teksverwysings in die Nuwe Testament wat in voetnote aangegee word, byvoorbeeld in die eerste 4 hoofstukke van Matteus, Paulus se behandeling van die sluier van Moses in 2 Kor.3:7-18; Romeine 9-11 oor God se genadige uitverkiesing van Israel. Eintlik is die hele boek Hebreërs ‘n besinning oor die Ou Testament vanuit die Christusgebeure met toepassing op sy lesers. En Openbaring wemel van die Ou-Testamentiese aanhalings, omdat die skrywer beelde uit die Ou Testament gebruik vir sy troosboodskap aan sy lesers wat vervolg word. Tipologie is maar ‘n onderdeel van hierdie groter gebruik van die Ou Testament in die Nuwe Testament.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...