Verbonde in die Bybel
Verbonde in die Bybel – Coen Slabber
‘n Verbond is ‘n bindende, formele ooreenkoms tussen twee partye. Dit speel ‘n belangrike rol in die Bybel, want God is dikwels een van hierdie partye. In die Bybel lees ons basies van twee soorte verbonde.
(1) ‘n Verbond tussen mense; en
(2) ‘n Verbond tussen God en mense.
I. ‘N VERBOND TUSSEN MENSE
Daar is verskillende voorbeelde van verbonde tussen mense:
(1) ‘n Verbond van vriendskap en lojaliteit. Jonatan en Dawid het ‘n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself (1 Samuel 18:3). In Hoofstuk 19 lees ons dat Jonatan by Saul, sy vader, pleit dat hy Dawid se lewe moet spaar. Hy waarsku vir Dawid dat Saul hom wil doodmaak.
(2) Die huwelik as verbond. Omdat die Here getuie is tussen jou en jou vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond (Maleagi 2:14 OAV).
(3) ‘n Verbond met jouself. Ek het ‘n verbond gemaak met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ‘n jongvrou? (Job 31:1 – OAV). Die Nuwe Vertaling praat van ek het my plegtig verbind.
(4) ‘n Verbond as deel van nasionale politiek. Ons lees in 2 Samuel 5:3 dat die oudstes van Israel na Dawid in Hebron gekom het en koning Dawid het met hulle ‘n verbond gemaak in Hebron voor die aangesig van die Here, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf (OAV). Die Nuwe Vertaling verwys na ‘n verdrag. Met hierdie verbond onderneem die volk om die koning se gesag te erken en die koning onderneem om volgens die wet van God te regeer.
(5) ‘n Verbond as deel van internasionale politiek. En die Here het aan Salomo wysheid gegee volgens sy belofte, en daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het ‘n verbond gemaak (1 Konings 5:12 – OAV). Hiram was die koning van Tirus. Dit stem ooreen met die verdrae wat lande vandag steeds met mekaar aangaan.
‘n Verbond tussen mense is dus ‘n vertrouensraamwerk waarin die verantwoordelikhede van en voordele vir elke party beskryf word.
II. ‘N VERBOND TUSSEN GOD EN MENSE
Vir Ou Testamentiese gelowiges was godsdiens die verbond – dit gaan oor trou aan die verbondsverhouding tussen God en die mense/volk wat Hy gekies het. God is dikwels die inisieerder van hierdie verbonde en Hy bind Homself aan die verbond. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie verbonde.
- Met Noag
Na die sondvloed bou Noag ‘n altaar vir die Here. Toe sê God vir Noag en sy seuns: Kyk, Ek sluit ‘n verbond met julle en julle nageslag en met al die lewende wesens by julle – dit sluit voëls en diere in (Genesis 9). God onderneem om nooit weer die mense en diere deur vloedwaters uit te wis nie. Hy gee selfs ‘n teken om hierdie verbond te beseël – die reënboog.
- Met Abraham
In Genesis 15 lees ons dat God ‘n verbond met Abra(ha)m sluit. God maak verskeie beloftes, onder andere, dat hy, Abram, ‘n eie nasaat sal hê, dat hy ‘n groot nageslag sal hê, dat God die land Kanaän aan hom sal gee, dat Hy die nasies deur Abraham sal seën. Hy verander sy naam van Abram na Abraham. As deel van die verbond moes elke man besny word. Ons lees van baie voorwaardes wat God vir Homself stel, maar Hy verwag nie veel van Abraham en sy nageslag nie. Paulus sou later hierdie verbond met die konsep van genade verbind.
- Met Moses
Toe die Israeliete by Sinaiberg aankom, het Moses teen die berg uitgeklim. God sê vir hom: As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees (Eksodus 19:5). In hierdie verbond is daar ‘n duidelike verpligting op die volk: hulle moet die wette en voorskrifte wat ons in Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium kry, gehoorsaam. Dit is die voorwaardes waaronder die volk in die beloofde land met God in hulle midde kon leef en sy seën ontvang. Paulus sou later hierdie verbond met die konsep van die wet verbind.
- Met Dawid
God sê vir die profeet Natan dat hy vir Dawid moet sê dat sy seun hom sal opvolg. God gaan egter verder: Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan (2 Samuel 7).
- ‘n Nuwe verbond
Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit (Jeremia 31). Hierdie keer skryf God nie sy woord op kliptafels nie, maar op die volk se harte. Hy sal dit ook in die volk se gedagtes vaslê. God gaan verder: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees … Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. By die instelling van die nagmaal sê Jesus: Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word (Lukas 22:20). Hierdie nuwe verbond is in Jesus Christus vervul.
Die verbond speel ‘n uiters belangrike rol in die Ou Testamentiese verhaal, maar ook verbind dit Ou en Nuwe Testamente. Israel kan nie die bepalings wat ons in God se verbond met Moses kry, nakom nie. Hulle ondervind God se oordeel en word in ballingskap weggevoer.
God in sy genade bly getrou aan sy verbonde met Abraham en Dawid. Dit, ten spyte van Israel se ongehoorsaamheid, is hulle hoop vir die toekoms. Maar met die koms van Jesus word die nuwe verbond van krag: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees … Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. Hierdie verbond is beseël met die dood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie verbond staan steeds en ons word daaraan herinner as ons die nagmaal vier.
Skrywer: Dr Coen Slabber