Vergifnis en skuldbelydenis – Hermie van Zyl
In hierdie aanbieding sal jy leer:
- Wat die verskil tussen spyt wees en berou oor sonde is;
- Hoe noodsaaklik skuldbelydenis vir vergifnis is;
- Dat die noodsaak van skuldbelydenis nie onsekerheid veroorsaak nie
- Wat die verhouding tussen die normale geloofslewe en skuldbelydenis is
- Die verskil tussen spyt wees en berou oor sonde
Skuldbelydenis groei uit sondebesef en berou, wanneer jy besef wie en wat jy is voor die aangesig van God. En op sy beurt kom berou oor sonde nie vanself nie, maar gebeur dit wanneer die Heilige Gees jou van binne-af oortuig oor jou status voor God. ‘n Mens se eerste en natuurlik reaksie by die besef van sonde is altyd om die werk van die Heilige Gees te weerstaan en jou status as sondaar te ontken. Niemand hou daarvan om te erken dat hy ‘n sondaar is en nie deel het aan die heerlikheid van God nie, soos Romeine 3:23 dit stel. Ons stel hierdie erkenning so lank as moontlik uit. Die Bybel waarsku egter dat ons nie die Heilige Gees moet weerstaan en bedroef nie (Handelinge 7:51; Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19; Jesaja 63:10). Wanneer Hy ons lei tot berou oor sonde, is dit deel van God se heilsweg en moet ons hierdie pad bewandel.
Op hierdie punt is dit belangrik om te verstaan dat daar ‘n verskil is tussen spyt wees oor dinge wat verkeerd geloop het en berou oor sonde. By spyt wees staan jyself in die sentrum. Jy is jammer dat jy nie in staat was om ‘n saak beter te hanteer nie, dat dinge skeefgeloop het. Jy mag selfs diep teleurgesteld wees in jouself, gepaardgaande met selfverwyt – hoe kón ek, hoe kon ék. En jy mag selfs onderneem om in die toekoms harder te probeer om nie weer dieselfde foute te maak nie. Maar wesenlik gaan dit oor selfhandhawing. Berou is egter anders; dit gaan ‘n stappie verder en lê veel dieper as spyt. Dit gaan oor die diepe besef van wie jy eintlik is, dat jou optrede nie net jou eie ego raak nie, maar ten diepste God se eer aantas en verhoudings met ander benadeel en geskend het. En daar is die bereidheid om teenoor God en ander te erken dat jy verkeerd was. Jy het ook die hartlike begeerte dat verhoudings herstel moet word. Jy is nie daarop ingestel om jou gewaande goeie beeld na buite ten alle koste te beskerm en te handhaaf nie. Jy kom op daardie punt dat jy besef jy is in wese ‘n sondaar en dat die verhouding net deur God herstel kan word, deur sy vergifnis.
Die verskil tussen spyt en berou word tipies geïllustreer deur Judas Iskariot (spyt) en Petrus (berou). Judas besef dat hy ‘n onskuldige Man verraai het; hy erken selfs dat hy gesondig het (Matteus 27:3-5). Maar hy het geen begeerte om die verhouding met Jesus en die ander dissipels te herstel nie. Hy is so teleurgesteld in homself en dat sy eie ideale aan skerwe lê, dat hy homself gaan ophang. Hy kon nie langer met sy eie teleurstelling saamleef nie. Maar by Petrus lê dit anders. Sy voortvarendheid kom tot ‘n val, en hy het diepe berou oor sy verloëning van Jesus (Matteus 26:75). Hy kom tot ware selfinsig en het die begeerte dat die verhouding met Jesus en die ander herstel sal word, wat dan ook later gebeur (Johannes 21:15-19). In hierdie twee se lewe word geïllustreer wat in 2 Korintiërs 7:8-11 staan: Daar is ‘n droefheid oor sonde wat tot die lewe lei; dis ‘n droefheid volgens die wil van God en lei tot bekering en redding. Maar daar is ook ‘n droefheid uit wêreldse oorwegings wat tot die dood lei. Laasgenoemde was Judas se paadjie; eersgenoemde Petrus s’n.
- Die noodsaaklikheid van skuldbelydenis vir vergifnis
Die vraag wat nou ontstaan, is hoe noodsaaklik dit is om jou sonde te bely ten einde God se vergifnis te bekom. Hieroor is die Bybel baie duidelik – sonde wat nie bely word nie, verteer ‘n mens. Jy het geen innerlike vrede nie en daar is geen ware herstel van verhoudings moontlik nie totdat jy die sonde waarvan die Heilige Gees jou oortuig het, teenoor God en die ander bely het. So lees ons van Dawid in Psalm 32:3-5 dat sy liggaam uitgeteer en sy krag opgedroog het toe hy nie sy sonde bely het nie. Hy verlang na God se vergifnis en redding sodat hy weer blydskap en vreugde kan belewe (Psalm 51:1-15). Spreuke 28:13 praat ook daarvan dat mens niks goeds te wagte kan wees solank jy jou sonde wegsteek nie; eers wanneer jy dit bely, ontvang jy genade. En in die gelykenis van die verlore seun het die jongste seun die dringende behoefte om sy sonde teenoor God en sy pa te bely (Lukas 15:18). As mens hierdie stem in jou binneste onderdruk en jou skuldbelydenis bly uitstel, kan dit lei tot opstand teen God of gewoon net afsydigheid teenoor Hom. Meer nog, ‘n langdurige onderdrukking van die erkenning en belydenis van sonde kan lei tot die sonde teen die Heilige Gees waar die stem van jou gewete – soos gesensitiseer deur die Heilige Gees – al hoe dowwer en stiller raak totdat jy later geen begeerte meer het om met God versoen te raak nie. Jy het dan die enigste manier wat God het om sy heil aan jou te bemiddel – die werking van sy Gees – in effek stilgemaak.
Ons moet egter die verhouding tussen sondebelydenis en vergewing goed verstaan. Dit is nie so dat God my sonde vergewe op grond van my belydenis van sonde nie. Want dan kan die gedagte posvat dat dit my belydenis van sonde is wat God se houding of gesindheid teenoor my verander. Eers was Hy kwaad vir my, maar na my skuldbelydenis verander dit na goedgesindheid. Maar in die vorige aanbieding het ons reeds gesien dat die grond vir God se vergifnis enkel alleen sy genade is, asook die feit dat Christus in ons plek die straf op ons sonde gedra het. Die rede hoekom Hy vergewe word nie in óns gevind nie, maar in Hom, in sy goedheid en genade. Daar vind dus geen Umstimmung by God plaas nie; God is nie eers kwaad vir ons, en ná ons skuldbelydenis versag sy houding na goedgesindheid nie. Nee, God was nog nooit anders as genadig, vol liefde en barmhartig nie (Psalm 103:8-14; 145:8-9; Jona 4:2). Hy reageer dus nie op ons sondebelydenis nie, dis eerder ons wat reageer op sy goedheid; dis sy goedheid wat sondebelydenis by ons ontlok en moontlik maak. Die feit van die saak is dat Hy Hom met ons versoen het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8; 2 Korintiërs 5:19; 1 Johannes 4:10). Hy het ons eerste liefgehad. Dis presies die herinnering aan die liefdevolle vader wat die verlore seun laat terugkeer huis toe. As hy ‘n veroordelende vader daar verwag het, sou hy waarskynlik nooit teruggekeer het nie. (Die vader se liefde word veral uitgedruk deur die “innig jammer gekry” van Lukas 15:20.)
Tog, hoewel sondebelydenis nie die oorsaak of grond van God se vergifnis is nie, kan vergifnis ook nie daarsonder plaasvind nie. Ons kan dit so stel: sondebelydenis is nie soseer vir God belangrik nie, maar vir ons. Dis die enigste manier waarop ons God se vergifnis kan bekom, hoe dit ‘n realiteit vir ons word. Sondebelydenis is dus weliswaar nie die grond van vergifnis nie, maar ‘n voorwaarde; vergifnis hang nie af van my belydenis nie, maar hang daarmee saam. Hierdie waarheid word tipies uitgedruk deur die gebeure rondom die vader en die jongste seun in die gelykenis van die verlore seun. Die seun doen wel belydenis van skuld, maar dié word vooruitgeloop en ondervang deur die vader wat lankal reeds na die seun se terugkeer verlang en hom inwag (die vader sien hom van ver af aankom; hy het vir hom gewag). Daarom laat die vader die seun nie eens toe om sy skuldbelydenis volledig te doen nie; hy soen dit as ‘t ware weg. Hy stel nie eintlik belang in die belydenis nie, Hy is net bly dat die seun terug is by die huis sodat hy as seun herstel kan word. Inderdaad, God het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Esegiël 18:23).
Kom ons vat saam om die verhouding tussen sondebelydenis en vergifnis nogeens duidelik te maak. Ons skuldbelydenis is weliswaar noodsaaklik, maar dis nie ‘n goeie werk wat beloon word met Goddelike vergifnis nie. God beloon ons nie met vergifnis omdat ons belydenis so opreg is of treffend geformuleer is nie. Ons kan onsself nie op die skouer klop dat ons eintlik God se vergifnis verdien deurdat ons tot hierdie insig oor onsself of tot berou oor sonde gekom het nie. Nee, sondebelydenis, soos geloof, is ‘n manier waarop ons wegkyk van onsself om God se vergifnis, wat uit sy genade voortvloei en wat Hy reeds in Christus voorberei het, in ontvangs te neem.
- Die noodsaak van skuldbelydenis veroorsaak nie onsekerheid nie
Indien skuldbelydenis as noodsaaklik vir vergifnis gesien word, ontstaan die vraag of dit nie ‘n soort onsekerheid of selfs angstigheid by die gelowige tot gevolg het nie. Waar staan ek werklik op die langtermyn met God? Byvoorbeeld, wat van sondes wat ek nog nie bely het nie? Of sondes waarvan ek nie eens bewus is nie? Of sondes wat ek nog gaan doen? Plaas hierdie onbelede sondes nie my verhouding met God in gevaar nie? Beteken dit dat ek op ‘n wilde soektog moet gaan na al my vermeende en onontdekte sondes sodat ek dit kan bely ten einde daarvoor vergewe te word?
Hierop kan ons onomwonde antwoord dat die verhouding met God nie ‘n quid pro quo-een is nie. Dit is nie so dat vir elke moontlike ding wat mag skeefloop in hierdie verhouding daar ‘n gepaste “teenprestasie” van ons verwag word om weer die verhouding te herstel nie. En indien hierdie teenprestasie nie gelewer word nie, dan verbeur ons die seën van God en dreig die verhouding om tot niet te gaan. Nee, die gelowige rus vir tyd en ewigheid in ‘n geborge en veilige verhouding met God. Ons is nie vasgevang in ‘n wettiese opset waar ons suutjies moet trap en gedurig senuagtig oor die skouer loer of ons God nie dalk geaffronteer het nie. Nee, ons is soos kinders in die ouerhuis. Vir seker is alles nie perfek nie; baie dinge loop verkeerd; daar is onbelede sondes; ons selfinsig is nooit volmaak nie. Maar by God as Vader het ons tuisgekom, rustig geword. Sy Seun het immers gesê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). By God is daar rus, kalmte, geborgenheid en vreugde. Wat meer is, dis ‘n liefdesverhouding, en ware liefde dryf die vrees na buite (1 Johannes 4:18). Ons het die Gees van vryheid ontvang wat maak dat ons nie die hele tyd in vrees en onsekerheid lewe nie. Die Gees maak ons tot kinders van God, en as kinders is ons sy ewige erfgename (Romeine 8:15-17). En niemand kan ons aankla of beskuldig dat ons vanweë ons onvolmaaktheid nie vir tyd en ewigheid aan Hom behoort nie. Niks in die hemel of op die aarde kan ons skei van God se liefde in Christus nie, nie eens ons onbelede sondes nie (Romeine 8:31-39).
So gesien is dit nie voorbarig nie maar juis tekenend van kinderlike vertroue wanneer ons sê: Daar is geen plek vir onsekerheid en angs in die verhouding met God nie. Ook my onbelede, onbekende én toekomstige sondes is vergewe. My totale gebrokenheid word ondervang deur God se vergifnis wat ten diepste nie afhanklik is van my belydenis van sonde nie, maar van sy genade en liefde.
- Die verhouding tussen die normale geloofslewe en skuldbelydenis
Die laaste kwessie wat ons moet aanraak, is: Hoe pas sondebelydenis in die normale geloofsverhouding met God in? Anders gestel: Lei berou en sondebelydenis tot geloof in God, of is dit andersom: Berou en sondebelydenis vloei voort uit die geloofsverhouding met God?
Ideaal gesproke behoort ‘n “sondebesef” tot geloof in God te lei, maar die geskiedenis leer ons dat dit nie altyd die geval is nie. In afdeling 1 het ons juis gesien dat Judas Iskariot tot ‘n bepaalde sondebesef gekom het nadat hy Jesus verraai het, maar dit het nie tot sy redding gelei nie; inteendeel, hy het in wanhoop homself gaan ophang.
Wat gebeur, is dat die aanvanklike ontmoeting met God lei tot sondebesef, soos Petrus ervaar het tydens die wonderbaarlike visvangs (Lukas 5:8). Hy is so oorstelp deur hierdie gebeure dat hy uitroep: “Gaan weg van my af Here, want ek is ‘n sondige mens.” Hy besef hy is op heilige grond, dat hy in die teenwoordigheid van die Heilige is, en dat hy ‘n sondaar is. Dit het ook gebeur toe Johannes die Doper met sy prediking begin het (later ook oorgeneem deur Jesus): “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matteus 3:2; 4:17). In die lig van die ontsagwekkende teenwoordigheid van God se koninkryk is daar net een gepaste reaksie: Sondebesef, skuldbelydenis en bekering. En so het baie mense inderdaad op Johannes se prediking tot sondebesef en geloof gekom, hulle selfs laat doop (Lukas 3:3-14). Maar hierdie aanvanklike belydenis moet deel word van die normale geloofslewe. Die groeiende besef van wie God en wie ek is, wat voortvloei uit die groeiproses in ‘n normale geloofslewe, lei tot verdieping in sondebesef en -belydenis. Opregte boetvaardigheid word gebore, én verdiep algaande, vanuit die geloofsverhouding met God. Dit is die logiese uitvloeisel van ‘n lewe coram Deo (“voor die aangesig van God”).
In hierdie verband het Calvyn gepraat van die Christelike lewe as een van mortificatio en vivificatio, wat beteken: die doding of kruisiging van die vlees (die ou natuur), en die opstanding van die nuwe mens, die vernuwing tot ‘n lewe in Christus. So gesien vorm mortificatio en vivificatio keersye van mekaar; beter gestel: die doding van die ou natuur vind plaas vanuit die vernuwing van my lewe in Christus. Hoe nader ek aan Christus leef, hoe meer ek die nuwe mens in Christus ervaar en uitleef – hoe meer haat ek my ou natuur en kruisig ek dit. Die belydenis van sonde is dus nie ‘n eenmalige daad van berou nie, maar deel van ‘n lewenslange groei na Christus toe. Laasgenoemde laat my al meer my sonde ontdek en wek voortdurend die behoefte om my sonde te bely. Uiteraard nie op ‘n vreesagtige en patologiese manier nie; dit is net die spontane uitvloeisel van ‘n lewe saam met Christus. Ek ontdek en erken algaande die waarheid van Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie.” Die Christelike lewe bestaan derhalwe daarin om dood te wees vir die sonde (mortificatio), maar te lewe vir God (vivificatio), omdat ons een is met Christus (Romeine 6:11).
Skrywer: Prof Hermie van Zyl