Vergifnis noodsaaklik – Hermie van Zyl
In hierdie aanbieding sal jy leer:
- Wat die verhouding tussen vergifnis en die ander groot sake van die heilsweg is;
- Dat vergifnis altyd in twee rigtings werk: God teenoor mense, en mense teenoor mekaar;
- Hoekom vergifnis noodsaaklik is
- Die verhouding tussen vergifnis en die ander groot sake van die heilsweg
Vergifnis veronderstel skuld, veral teenoor God. In hierdie geval is dit ‘n onbetaalbare skuld. Op geen manier kan ons self ons skuld minder maak of daarvoor betaal nie. Daar is net een manier waarop ons in die reine kan kom by God, en dit is wanneer Hy van sy kant af ons skuld vergewe en so die verhouding herstel, dit wil sê, wanneer Hy Homself versoen met ons. En dis presies wat hy in Christus gedoen het, volgens 2 Korintiërs 5:18.
Met hierdie paar woorde het daar ten minste twee sake na vore gekom wat verband hou met mekaar, naamlik vergifnis en versoening. Eintlik is hulle vervleg, maar hulle kan tog onderskei word. Hulle vorm deel van die sogenaamde heilsweg, die manier waarop God aan ons sy heil of genesing skenk. Maar daar is ook ander sake wat deel uitmaak van die heilsweg, soos uitverkiesing, wedergeboorte, regverdigmaking, redding, aanneming tot kinders, geloof, bekering, berou, belydenis van sonde, om Jesus aan te neem, heiligmaking, om nie meer te noem nie. Voordat spesifiek oor vergifnis gehandel word, sal dit goed wees om vir ‘n oomblik aandag te gee aan hoe hierdie verskillende aspekte van die heilsweg met mekaar verband hou.
Die heilsorde
Vroeër is daar gepraat van die heilsorde. Daarmee is bedoel dat die sake wat hierbo genoem word, in ‘n sekere volgorde in die gelowige se lewe gebeur, amper soos stasies wat mekaar een na die ander opvolg tydens ‘n lang treinrit. En daar is nogal lang debatte gevoer oor wat presies hierdie volgorde is. So is daar gesê dat uitverkiesing heel eerste kom, want God moet ons eers uitverkies voordat daar van enige heil sprake kan wees. En dan volg die wedergeboorte, omdat mens nie tot belydenis van sonde of geloof kan kom as God jou nie eers van binne nuut gemaak het nie. En daarop volg sondevergifnis en regverdigmaking, waardeur God jou tot sy kind aanneem. Eers dan kan jy tot geloof kom, waarop dan logies volg dat jy jou bekeer van ‘n sondige lewe en tot God keer. En hierop volg dan ‘n lewe van heiligmaking totdat ons by Christus se wederkoms tot ‘n staat van verheerliking oorgaan.
Probleem met heilsorde
Ek dink jy voel aan dat genoemde volgorde ietwat geforseerd aandoen. Uitverkiesing en wedergeboorte as eerstes maak nogal sin, maar wie sê dat regverdigmaking voor geloof kom? Is dit nie dalk andersom nie? En so kan ons voortkibbel. Die probleem met so ‘n heilsorde is drieërlei: Eerstens die voor die hand liggende – die volgorde van die opeenvolgende “stasies” is nie altyd so logies nie. Mens kan verskil oor wat eerste kom en wat daarna op mekaar volg. Tweedens, indien dit as opeenvolgende stasies verstaan word, beteken dit dat as mens by ‘n stasie verby is, dit agtergelaat word en dan later vergete raak en nie meer as so belangrik beskou word nie. Jy het dan “gepromoveer”. En dit is beslis nie die bedoeling van die heilsorde nie. Elkeen van die sake is mens se hele lewe lank belangrik; niks word ooit agtergelaat nie. Derdens, so ‘n orde is nie Bybels begrond nie, want nie twee Bybelskrywers noem alle “stasies” van die heilsorde nie, of noem dit in dieselfde volgorde nie. ‘n Mens kry eerder die gevoel dat sekere skrywers ‘n voorkeur het vir sekere terme, terwyl ander weer ander terme verkies, sonder dat hulle die terme met mekaar in verband bring of in ‘n bepaalde orde plaas. Dit wil dus lyk dat ons die terme nie as opeenvolgende stasies moet sien nie maar eerder soos die verskillende vlakke van ‘n diamant wat telkens ‘n bepaalde faset van die heil belig, afhangende van watter aspek ter sprake is, en ongeag enige volgorde. So is Paulus baie lief daarvoor om die heil in terme van regverdigmaking te beskryf. Hy lê klem daarop dat ons almal skuldig staan voor God en dat ons slegs regverdig verklaar of vrygespreek kan word wanneer ons glo dat sy Seun in ons plek die straf op ons sonde gedra het. Dan vergewe God ons sonde op grond van Christus se kruisdood, en Hy stel ons vry in ‘n nuwe lewe. Johannes praat weer meer van geloof, wedergeboorte en vergifnis, maar glad nie van regverdigmaking nie. Lukas weer is lief vir die begrip redding, maar praat nooit van om “in Christus” te wees nie, laasgenoemde wat so dikwels by Paulus voorkom. En so kan ons die voorbeelde van verskille vermenigvuldig.
Eerder heilsweg
Wat moet ons hieruit aflei? Net dit: Wanneer Bybelskrywers sekere terme vir God se heil gebruik, beskryf hulle daarmee telkens die hele heil, nie net ‘n bepaalde “stasie” in die heilsorde nie. Die hele heil, die volle spektrum van God se heilshandelinge met die mens is telkens aan die orde, en elke term belig ‘n faset van of bied ‘n bepaalde perspektief op hierdie hele heil. Dit gaan dus nie oor “stasies” wat mekaar die een na die ander opvolg en dan agtergelaat word nie, of dat ons promoveer van een stasie na die volgende nie. Daarom word deesdae eerder van die heilsweg gepraat as die heilsorde. Toegegee, die term heilsweg mag steeds die gedagte van ‘n liniêre ontwikkeling inhou, maar ten minste is die gedagte van ‘n bepaalde volgorde minder in fokus. Met heilsweg word eerder bedoel die manier waarop ons deel kry aan die heil wat God skenk. Ons kry as gelowiges dadelik deel aan die hele heil, en elkeen van die heilsterme belig slegs ‘n bepaalde faset van daardie heil, net soos wat ‘n mens ‘n diamant wat in verskillende vlakke geslyp is, om en om na die lig kan draai en telkens verwonderd staan oor die skoonheid daarvan. Verskillende vlakke, ja, maar telkens dieselfde en die hele diamant, sonder dat die een vlak belangriker is as die ander of in ‘n bepaalde volgorde staan tot die ander.
Beide God en mens betrokke in heilsweg
Wat ons wel kan sê is dat die terme wat gebruik word om die heilsweg te beskryf, verteenwoordigend is van wat beide God en mens se “aandeel” aan die heil is. So kan ons sê dat uitverkiesing, wedergeboorte, redding, regverdigmaking en vergifnis veral die klem laat val op wat God doen, terwyl om te glo, berou te hê, jou sonde te bely, Jesus aan te neem, tot bekering te kom weer meer die menslike aktiwiteit beklemtoon. En sommige terme kan beide God en mens se werksaamheid belig, soos vergifnis en heiligmaking. So gesien is die heilsweg te verstaan as Goddelike inisiatief én menslike verantwoordelikheid, sonder om die twee teen mekaar af te speel of te sê waar die een eindig en die ander begin. Dit gaan om die hele en volledige heil waar beide God en mens verweef teenwoordig is. En dit is presies wat die verbond wat God met die mens aangaan, wil sê: Ek sal vir jou ‘n God wees, en jy sal vir my ‘n kind wees. God én mens is betrokke by die inskakeling in God se heil. Dis één ervaring met verskillende fasette en perspektiewe. Elkeen is in die mens se hele lewe werkend teenwoordig; nie een word gepasseer nie. Trouens, die heilsweg is niks anders nie as ‘n beskrywing van hoe ‘n mens se totale lewenspad met God verloop, en hoe God én mens daarin verweef en aktief teenwoordig is. Dis soos Filippense 2:12-13 sê: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
Vergifnis beide deel van die heilsweg en die hele heilsweg
Wat sê bostaande verduideliking in verband met vergifnis? In hierdie stadium is dit net belangrik om te weet dat vergifnis deel is van die heilsweg, dat dit een faset van die totale heil belig, en dat die ander aspekte voortdurend betrokke is. Vergifnis word dus nie verabsoluteer, dit is, losgemaak van die ander aspekte nie. Maar terselfdertyd moet ons sê dat wanneer vergifnis ter sprake is, dit die hele heil beskryf; deur vergifnis verkry ons nie net toegang tot ‘n deel van die heil nie, maar tot die totale heil, soos verteenwoordig deur die perspektief van vergifnis. Die son se lig laat die hele diamant skitter, maar soos dit weerkaats word vanaf hierdie vlak.
- Vergifnis werk altyd in twee rigtings: God teenoor mense, en mense teenoor mekaar
“Wie Christelik wil lewe, moes beide die vrye vergifnis van God ervaar het én bereid wees om ander te vergewe. Daar is geen plek in die koninkryk van God vir mense wat nooit vergifnis aanvaar het nie.” (Vry vertaal)
Donald Guthrie, Theology of the NT
In die volgende aanbieding (Vergifnis 2) sal ons uitvoeriger stilstaan by die innige band tussen God se vergifnis van mense, en mense se vergifnis van mekaar. Maar nou is dit belangrik om reeds te noem dat hierdie twee aspekte van vergifnis – die vertikale en die horisontale – onskeibaar is. As ons nie bereid is om mekaar te vergewe nie, hang daar ‘n groot vraagteken oor ons begrip en belewing van wat dit beteken dat God ons skuld en sonde vergewe het.
Van die innige verweefdheid tussen hierdie twee is die Skrif vol. Ons kan maar net die Ons Vader-gebed noem. Beide Lukas en Matteus se weergawes beklemtoon dit. Lukas 11:4 sê: “En vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree.” En Matteus 6:12-14: “… en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree … As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Maar in latere aanbiedings meer oor die besonderhede hiervan.
- Hoekom is vergifnis noodsaaklik?
In die twee afdelings hierbo het die noodsaak van vergifnis reeds duidelik na vore getree. In afdeling 1 is gestel dat vergifnis een van die maniere is waarop God sy heil aan ons deurgee. Ons het nodig dat God ons sondeskuld teenoor Hom vergewe, anders het ons geen deel aan sy heil nie. Vergifnis van sonde is die invalspoort na ons hart, so word ons lewe nuut gemaak en raak ons versoen met God. En in afdeling 2 het die ewe belangrike insig na vore getree dat hierdie sondevergifnis deurgegee moet word na ander, anders loop ons gevaar om God se vergifnis te verbeur.
Kom ons voer die “horisontale” aspek van vergifnis vir ‘n oomblik verder om die noodsaak van vergifnis te onderstreep. Afgesien van Lukas 11 en Matteus 6 (kyk afdeling 2), waar die eis om mekaar te vergewe reeds uitgelig is, is daar ook ander gedeeltes wat die ingesteldheid van vergifnis bevat:
- Matteus 5:38-42: Draai die ander wang / loop die tweede myl / gee ook die bokleed
- Matteus 5:43-48: Julle moet julle vyande liefhê; wees volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is
- Romeine 12:20: Oorlaai jou vyand met goedheid; laai so vurige kole op sy hoof
Waarom hierdie eis tot vergifnis?
- Ter wille van die ander
Vergifnis is die enigste manier waarop verhoudings met die naaste moontlik is. Ons moet ‘n houding ontwikkel van nie hard wees op mekaar nie, want ons sukkel almal met verhoudings. Vergifnis is ‘n manier om ruimte maak vir die ander sodat dié sy of haar vyandskap teenoor my kan aflê.
Die dinge waaroor ek die ander moet vergewe, gaan meestal ook oor klein dingetjies (vgl 1 Korintiërs 6:2 se “geringe sake” waaroor mense mekaar hof toe sleep). In sulke gevalle is dit dikwels beter om onreg te ly as om jou reg af te dwing (1 Korintiërs 6:7). Daar is immers ‘n groter geregtigheid ter sprake as jou eie reg, naamlik dié van die liefde wat die lewe moontlik maak. Hierdie soort ingesteldheid en optrede is die sagte bindweefsel wat die samelewing bymekaar hou.
- Ter wille van jouself
Vergifnis bring genesing, anders verteer die haat jou later. Efesiërs 4:31-32 // Kolossense 3:8,13-14 sê: “Lê die woede af, vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Ook in die verhouding man en vrou is vergifnis noodsaaklik: sodat ons gebede nie verhinder word nie (1 Petrus 3:7). En moenie kwaad met kwaad vergeld nie, sê 1 Petrus 3:9. ‘n Mens kan nie voortdurend met ‘n wrok rondloop nie, jy vergiftig net jouself. Die spreekwoord sê nie verniet nie: “Hy wat ‘n ander jaag, staan nie stil nie”.
Die noodsaak van vergifnis beteken nie dat dit maklik is nie. Want jou eie ego en eer is altyd in die pad. Verder is die verwonding opgedoen as gevolg van ander se optrede soms diep. Vergifnis is daarom nie vanselfsprekend of goedkoop nie, dit gebeur nie vanself nie. In hierdie verband berig Simon Robinson in TIME, 20/3/2006, p25, oor Rev Julie Nicholson, predikant in Bristol, Engeland, wat bedank het omdat sy nie die persoon kon vergewe wat die oorsaak was van haar dogter, Jenny, se dood nie. Jenny het die vorige jaar in Londen aan die hand van ‘n selfmoordbomaanvaller gesterf. Robinson skryf dan soos volg (vry vertaal):
Vergifnis is uiteraard wonderlik, bevrydend en verlossend. Maar dit het vandag amper die in-ding geword om te doen. Ons het altyd van die kansel af gehoor van die krag van vergifnis, maar nou word dit net ‘n ander woord vir “aanbeweeg” (moving on). Vergifnis is die eindelose refrein van talk shows en selfhelp-boeke. Sielkundiges glo dat vergifnis diep trauma kan genees, maar die konsep het so gemeenplasig geword dat almal dit in die openbaar eis, van Bill Clinton (vir huweliksontrou) tot bekende persoonlikhede (vir ‘n verskeidenheid van verslawings) tot derde wêreld-lande (vir skuld). Ons het so gewoond geraak aan mense wat vergewe dat ons teleurgesteld is wanneer hulle dit nie kan doen nie. Terwyl: Vergifnis is nie maklik nie …. dis nie iets wat soos ‘n kraan oopgedraai kan word nie … dit is in werklikheid ‘n goddelike gawe … dit moet gebalanseer word met ‘n gevoel van geregtigheid.
Dus, vergifnis – noodsaaklik, ja, maar dit bly ‘n stuk genade; dit kom nie vanself nie.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl