Vergifnis – Vraag

Henk Geyer vra:

As die Woord van God ons riglyn is, is ek veronderstel om eers iemand sy oortreding teen my te vergewe wanneer hy dit teenoor my bely het? 

Antwoord deur Prof Jan van der Watt

Henk gee nie die teksgedeelte wat hy in gedagte het nie, maar dit hang saam met die opdrag om ons sondes teenoor mekaar te bely. Die hart van sondebelydenis is om verhoudings te herstel wat seergekry het of stukkend geraak het vanweë verkeerde gedrag of lelike optrede. Daarom moet ons sonde bely, omdat God ons roep om in gesonde verhoudings met mekaar te leef. Sondebelydenis wil dus altyd verhoudings gesond maak. Sondebelydenis en vergifnis is egter twee sye van dieselfde munt.

In Matteus 18:15-35 word die hele saak van vergifnis bespreek. Jesus sê vir Petrus dat hy 70×7 maal moet vergewe. Vergifnis het dus nie grense nie. Om dit te verduidelik volg die verhaal van die koning (as beeld van God) wat ʼn amptenaar uit genade vergewe. Die amptenaar wat nou net die wonder van die vergifnis ervaar het, doen egter nie dieselfde nie en vergewe self nie sy medeamptenaar wat hom iets skuld nie. Toe die koning dit hoor, roep hy weer die amptenaar en hierdie keer vergewe hy hom nie weer nie. Hy stuur hom reguit tronk toe. Nou sou ʼn mens kon vra: wat het nou van die 70×7 geword, want die koning (as beeld van God) het net eenmaal vergewe en die tweede maal nie. Hoe moet ʼn mens dit verstaan?

a) Sondebelydenis wil ons verhoudings normaliseer – die koning vergeef die amptenaar en so herstel hy weer die verhouding met hom.

b) Die amptenaar reageer egter nie soos iemand wat in die verhouding reg wil leef nie, want hy tree presies die teenoorgestelde op as die koning.

c) Die koning straf hom nou nie oor wat hy skuld nie, maar omdat hy nie leef volgens die herstelde verhouding nie.

Daar hou vergifnis dus op?! In die sin is dit reg dat met vergifnis daar altyd die voorwaarde saamgaan dat die verhouding tussen beide partye herstel moet word. Dit is nie eenrigting verkeer dat die een maar net moet vergewe en die ander party maar kan doen wat hy of sy wil nie. Dit is waar belydenis inkom – belydenis is die aanduiding dat die persoon wat die fout gemaak het, die verhouding wil herstel. As dit die geval is, mag jy nie die gebaar van die hand wys nie – nooit nie: dit is waar die 70×7 inkom. Daar mag geen beperking gestel word aan hoeveel keer ʼn gelowige bereid moet wees om weer voor te wil begin en verhoudings met ander te wil herstel nie. Ons moet altyd daarna streef om verhoudings te herstel en ons verhoudings gesond te hou. Dit verwag die Here van ons. 

Van hierdie bereidheid om te vergewe mag egter nie misbruik gemaak word nie – soos gesê is, vergifnis is nie eenrigting verkeer nie, maar is die een sy van die munt: belydenis is die ander sy. Die twee moet altyd saamgaan. As die persoon wat bely nie opreg is nie en nie werklik die verhouding wil herstel nie (soos die amptenaar in die gelykenis), kan vergifnis ook nie funksioneer nie. Die doel van vergifnis is immers om die verhouding weer te herstel en as dit nie gebeur nie, werk vergifnis nie regtig nie (dit word ook met tug in die gemeente geïllustreer – Matteus 18:15-17). 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt