Verkeerde sienings van dissipelskap
In times of failure keep two words in mind: Remember Peter – Leonard Sweet en Frank Viola
Verkeerde sienings van dissipelskap
Ed Stetzer het ‘n artikel hieroor geskryf. Daar word baie oor dissipelskap geskryf – en met reg. Dit staan immers sentraal in Jesus se Groot Opdrag: Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Stetzer glo egter ons dissipelskapmodel is stukkend. Hy identifiseer vyf gebiede wat dringend aandag moet kry.
- Ons stel dissipelskap en Bybelkennis gelyk aan mekaar. Ons kan nie geestelik groei sonder ‘n dieper kennis van die Bybel nie. So dikwels bestaan ons dissipelskapproses uit: “Lees dit; Bestudeer dit; Memoriseer dit; Reg om te gaan.” Dissipelskap is om meer soos Jesus te wees: dIé wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die eerste is (Romeine 8:29). Die kern is nie inligting nie, maar transformasie. Ons moet Jesus Christus beter leer ken.
- Ons maak dissipelskap ‘n program. Dissipelskap is nie ‘n ses weke kursus nie. Dit vereis die najaag van kennis plus doelbewuste optrede. Baie mense bied ‘n boek of ‘n klas aan, maar wat ons nodig het, is ‘n lewe. Toe Jesus dissipels gemaak het, het Hy hulle saam met Hom geneem terwyl Hy met sy bediening besig was. Moenie mense net vertel nie, neem hulle saam met jou. Mense soek meer as net ‘n Bybelskool een maal per week. Hulle soek betekenisvolle verhoudings … nie klasse nie.
- Ons stel dissipelskap gelyk aan preke. Daar is leraars wat glo dat hulle preke een of twee maal per week voldoende is. Deur net na preke te luister beteken nie mense groei geestelik nie. Dissipelskap is ‘n daaglikse proses – dit is nie ‘n Sondag-gebeurtenis nie. Dit vereis daaglikse toewyding.
- Ons glo dat ons sonder inspanning geestelik kan groei. God het ons gered. Al wat nou nodig is, is om een keer per week die erediens by te woon en van die groot sondes af weg te bly. Daar is niks doelgerig in hierdie proses van geestelike groei nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe (Filippense 2:12). Let op: toelê. Dissipelskap is ‘n proses. Hierdie vers sê nie ek moet my eie redding uitwerk nie – dit gebeur deur genade en in geloof. Maar, as gelowige moet ek groei en dit vereis inspanning van my kant. Dallas Willard verduidelik dit so: “Grace is not opposed to effort, it is opposed to earning.”
- Ons bied geen praktiese stappe aan nie. Om die verbruikerskultuur van ‘n gemeente te verander, vereis ‘n doelgerigte plan en strategie vir dissipelskap. Gee aan mense praktiese stappe en mense met wie hulle die pad saam kan loop.
As jou dissipelskapplan Bybels gegrond is, is die besonderhede van die plan nie so belangrik soos die implementering en kommunikering daarvan nie. Ons moet die uitdagings vir dissipelskap identifiseer en ‘n proses daarstel wat hierdie probleme hanteer. Dit is die eerste noodsaaklike stap in ons dissipelskapproses.