Vissers
It is the mark of a hyprocrite to be a Christian everywhere except at home. —Robert Murray M’Cheyne
Vissers
In Lukas 5:1 – 11 lees ons van die roeping van die eerste dissipels – Jesus roep hulle terwyl hulle visvang. Hy voeg by: Van nou af sal jy mense vang. Daar is baie ooreenkomste tussen visvang en mense vang. Beide vereis werk, taktiek, strategie, geduld, volharding, ens. Maar daar is nog ‘n kenmerk wat nie genoeg aandag kry nie: optimisme.
Het jy al ‘n pessimistiese visserman gesien? Hulle glo almal dat hulle vandag die ou grote gaan vang. Natuurlik is sommige vissermanne pessimisties op ander gebiede in hulle lewe, maar as hy sy visstok optel, word hy ‘n optimis. Dit is hoekom hulle vroeg soggens – al reën dit – opstaan.
As ons aan evangelisasie dink, is optimisme ‘n belangrike bestanddeel. Hoekom sal jy ander mense van die evangelie vertel as jy nie ‘n optimis is nie – vandag mag net die dag wees. Maar hoekom kan Christene optimisties wees as hulle iemand van die evangelie vertel? God se soewereiniteit. So lees ons van Lidia: Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak (Handelinge 16:14). As God nie tussenbeide tree om mense te red nie, sou evangelisasie ‘n mors van tyd gewees het.
Voor Jesus sy groot opdrag aan sy dissipels gee, sê Hy eers: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Daarom kan die dissipels uitgaan na die nasies en die mense sy dissipels maak.
Is jy ‘n optimistiese visser van mense?