Voorvereistes vir die Doop

Voorvereistes vir die Doop – Francois Malan

Henk vra:

Na aanleidig van 1 Pet 3 vers 15 en 16 en Hand 8 vers 36-38 net die volgede oor die Doop: Is daar nie ‘n voorvereiste vir die Doop van ‘n persoon nie? Dit meen jy moet ‘n geestelike besluit kon neem? Wat van my klein doop is dit reddend? Hoekom is Hand 8 vers 37 uitgelos uit die nuwe vertaling?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Voorvereiste vir doop – slegs dat God ‘n persoon aan Christus verbind het. Vir volwassenes beteken dit dat hulle in Christus glo as die Seun van God wat vir hulle sonde gesterf het, en dit sluit dié gelowiges se kinders in; vgl. bv. Hand.16:31-33 waar die bewaarder en sy huisgesin gedoop is, soos Abraham en sy gesin destyds besny is (Genesis 17:11-12).

1 Petrus 3:15-16 is deel van Petrus se onderrig oor onregverdige lyding van gelowiges in verse 13-17. Dit handel oor hoe ‘n Christen moet optree te midde van vervolging, maar ook teenoor elkeen wat ‘n verduideliking vra oor die hoop waarin ons lewe, nl.

  1. uit heilige eerbied vir Christus as Here, letterlik: eerbiedig Christus as die Here in julle harte – deur in gehoorsaamheid te lewe soos Hy sê, as die Here van my lewe.
  2. van die hoop waarin ons lewe, wat die verborge krag en dryfveer van ons lewe is, nl. ons verbindtenis aan Christus se opstanding en dat ons saam met Hom ewig sal lewe.
  3. dat ons verantwoording van ons geloof steeds met beskeidenheid en vriendelikheid sal wees teenoor die persoon of persone wat ons om ‘n verduideliking vra – nie in selfverheffing bo hulle en selfvoldaan nie.
  4. dat ons getuienis steeds met eerbiedige ontsag vir God gelewer sal word. Dan sal ons nie bang wees vir die mense nie, maar bewus dat ons aan Hom verantwoording doen.
  5. dat ons lewe voor die mense skoon bly deur in gemeenskap met Christus te lewe, met sy liefdeskrag en met sy genade teenoor ander mense.

Die gedeelte in 1 Petrus veronderstel dat ons aan Christus verbind is, en wys ons hoe ons as Christene moet lewe.

Die doop is God se uiterlike teken wat Hy aan ons gee dat ons aan die Vader en die Seun en die Heilige Gees behoort, in wie se naam ons gedoop is. Dit is ‘n verseëling van die verbond wat God met ons maak. 1 Petr.3:21 kan letterlik ook soos volg vertaal word: ‘Dit (die redding van Noag en sy gesin) is ‘n beeld van die doop wat julle red, nie van die vuilheid van die sterflike liggaam nie, maar as ‘n pand (‘n waarborg) deur God van ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus’

Die doop is die pand wat vir ons waarborg dat Christus ons verhouding met God reggemaak het deur vir ons die straf op die sonde te dra, dat die Vader van Jesus Christus ons aangeneem het as sy kinders vir wie Hy sorg.

Romeine 6:4-5 sê: Deur die doop is ons immers saam met Christus in sy dood begrawe, sodat, soos Christus (die Seun van God) deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook ‘n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Die Heilige Gees kom in ons woon om ons aan Christus te verbind, om ons te laat glo dat die Seun van God vir ons sondes gesterf het en dat ons saam met Hom opgestaan het (Rom.8:9-11), om ons kinders van God te maak en God ons Vader te laat noem (Rom.8:15-16). In Johannes 3:5-8 verduidelik Jesus dat ons weergebore word deur die Gees. Wedergeboorte is God se werk,wat geloof in ons wek. Bekering is ons verantwoordelikheid, om ons daagliks na God te keer en vir Hom en vir ons naaste te lewe in alles wat ons doen.

My kleindoop reddend? – redding kom slegs deur Christus. God gee die doop as die uiterlike teken, wat die redding deur Christus illustreer en waarborg.

In Kolossense 2:11-12 word ons verbondenheid met Christus se dood beskryf as die besnydenis van Christus, waardeur God ons sondige natuur weggeneem het. Dit gebeur in die doop, waardeur God ons verbind aan die dood en opstanding van Christus. Deur ons verbinding aan Christus verkry ons verlossing van ons sonde en die nuwe lewe uit liefde vir God en ons medemens, saam met Hom.

In Handelinge 2:38-39 sê Petrus: die mense wat na hom luister moet hulle bekeer en elkeen gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergiffenis van hulle sonde en hulle sal die geskenk van die Heilige Gees ontvang, want die belofte is aan julle en julle kinders en almal wat ver is, elkeen wat die Here ons God na Hom toe roep.

In die Ou Testament is seuntjies van agt dae oud besny as teken dat God hulle opgeneem het in sy genadeverbond (Genesis 17:12 wat selfs die kinders van slawe in Abraham se gesin gegeld het; vgl. Lukas 2:21).

In 1 Korintiërs 7:14 sê Paulus dat die kind van ‘n gelowige aan God behoort. 

Waarom is Handelinge 8:37 uitgelaat?

Boekdrukkuns is eers in 1450 n.Chr. uitgevind. Tot op daardie datum is alle boeke, die Bybel ingesluit, met die hand geskryf en afgeskryf. In 1516 het Erasmus die eerste Griekse Nuwe Testament saamgestel uit twee manuskripte uit die 12e eeu na Chr. Die een manuskrip wat hy meeste gebruik het, het nie vers 37 gehad het nie, maar in die kantlyn van die tweede manuskrip was die woorde van vers 37 ingeskryf, wat hy toe ook in sy uitgawe ingesluit het. Dit het die grondteks van die Nederlandse State vertaling in 1637 gevorm en ook van die Afrikaanse vertalings van 1933 en 1953. In 1870 is ‘n manuskrip uit die laat sesde eeu gekry wat wel vers 37 in het.

Die Afrikaanse vertaling van 1983 gebruik egter ‘n Griekse teks wat gebasseer is op manuskripte wat uit die 3e en 4e eeu na.Chr. geskryf is. Daarin kom vers 37 nie voor nie. Daar bestaan ongelukkig geen oorspronklike manuskrip van Handelinge wat deur Lukas geskryf is nie. Ons het slegs afskrifte wat later van mekaar afgeskryf is. Maar die vertalers gebruik deesdae ‘n Griekse teks vir die vertaling van die Nuwe Testament, wat saamgestel is uit die oudste en betroubaarste manuskripte.

 

Skrywer: Prof Francois Malan