Vraag: Die slaaf se regteroor is afgekap… – Johann Voges
‘n Leser vra:
Die slaaf se regteroor is afgekap. Kan mens ‘n simboliese betekenis aan die feit koppel dat dit ‘n “oor” was? Daarom beteken dit dat oorhaastige optrede maak dat die aanhoorder nie gaan hoor wat jy sê nie? Mens vind dit dikwels in die praktyk, wanneer jy iemand direk “aanval” luister die persoon nie wat jy sê nie? Selfs Jesus se gevangeneming, was vir Hom ‘n geleentheid om ‘n leering te illustreer? Heg ek teveel daaraan dat dit ‘n “oor” was en nie ‘n vinger of ander liggaamsdeel nie?
Antwoord
Wat jy sê “dat oorhaastige optrede maak dat die aanhoorder nie gaan hoor wat jy sê nie”, is heeltemaal waar, maar om dit te wil inlees of aflei van wat Johannes vir ons oor die Petrus / Malgus insident vertel, trek ons ʼn streep deur wat Johannes daarmee wou sê (ons noem dit ‘allegorisering’ waar ek my eie idee en siening inlees ten koste van die oorspronklike bedoeling van wat die skrywer daarmee bedoel het). Johannes wou eerder vertel hoe Jesus kies om die kruispad te loop (dis waaroor sy gebed in Getsemane gaan), maar dan nie omdat Hy skuldig bevind is vir godslastering (volgens die sanhedrin se verhoor hierna nie) of vir die mishandeling van ʼn hoëpriester amptenaar wat beseer is as gevolg van een van sy dissipels se impulsiwiteit nie, maar omdat Hy weet, hoe onverstaanbaar ookal, dan die ‘kruispad’ dit die enigste manier is om mense se verhouding met God weer herstel te kry.
Vir verder lees hieroor, stel ek voor dat jy in ons webtuiste (bybelkennis.co.za) se soekfunksie intik “Malgus” en jy gaan daarin die volgende artikels kry wat jou vraag meer volledig gaan antwoord…
1. Moenie die Here op die verkeerde manier help nie. – Jan van der Watt
2. Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word gearresteer (Luk 22:47-53) – Francois Malan
Skrywer: Dr Johann Voges