Vraag: Johannes – Johann Voges
‘n Leser vra:
Is Johannes die dooper, dieselfde persoon as, Johannes wat Openbaring geskryf het ?
Antwoord
Dr Johann Voges antwoord:
In veral Lukas lees ʼn mens hoedat Johannes die Doper (Lukas 1), Elizabeth se kind (sy was Maria, Jesus se ma se tannie) mense moes kom voorberei het op Jesus se koms en ook vir Jesus gedoop het (Lukas 3). In Lukas 9 word vertel waar Herodes wonder wie Jesus is, hoe Johannes aan sy einde gekom het (lees ook Matteus 14 hieroor) …
7Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.” 8Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.” Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.” 9Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!”
Oor wie Openbaring geskryf het , is daar twee opinies. Sommige kenners aanvaar dat die boek deur die apostel Johannes, die seun van Sebedeus, geskryf is. Hy word dan ook as die skrywer van die Johannes-Evangelie en die drie Johannes-briewe beskou. Ander kenners is egter van mening dat Openbaring nie deur die apostel Johannes geskryf is nie, maar deur ’n onbekende rondreisende apokaliptiese profeet in Klein-Asië wie se naam Johannes was. In Openbaring self word slegs gesê dat die skrywer se naam Johannes is en dat hy na die eiland Patmos verban is vanweë sy Christenskap (Opb 1:4, 9). Die meeste kenners is van mening dat Openbaring teen ongeveer 95 nC geskryf is en oorspronklik gerig is aan Christene* wat in Klein-Asië* gewoon het. As Openbaring in ongeveer 95 n.C. geskryf is kan dit nie deur Johannes die Doper geskryf gewees het nie, want hy is amper 60 jaar voor die skryf van Openbaring reeds onthoof.
As jy wil kan jy ook na ons webtuiste gaan (bybelkennis.co.za) en by die soekfunksie intik “Johannes die Doper” daar is ‘n paar interessante artikels daarin oor hom geskrywe. ‘n Interessante artikel om ook te lees oor die skrywer van Openbaring sal jy kry by https://en.wikipedia.org/wiki/Book_of_Revelation.
Skrywer: Dr Johann Voges