Vreugde in beproewing en droefheid (16:16-24)
Vreugde in beproewing en droefheid (16:16-24) – Francois Malan
Hierdie gedeelte sluit aan by 16b-6 oor die droefheid van die dissipels oor Jesus se weggaan, na die invoeging van die drie uitbreidings op die belofte van die Heilige Gees as Helper nadat Jesus weg is.
16:16 Kernagtig word Jesus se vertrek en terugkoms geteken: Die ‘klein tydjie’ van sy weggaan na die Vader is al ‘n paar maal gestel: eers aan die Jode (7:33) en toe aan die dissipels (13:33a). Hier word egter gepraat van nog ’n ‘klein tydjie’ en dan sien hulle Hom weer.
16:17-18 Die dissipels is verwar. Hoe rym dit met sy gaan na die Vader toe (14:1-3)? Hulle besef nog nie wat in die volgende drie dae vir Jesus en vir hulle voorlê nie, en ook nie dat Hy op die derde dag weer aan hulle gaan verskyn nie.
16:19 Die Griekse woord ginooskoo kan beteken ‘opmerk’ (soos 1983-vertaling hier) of ‘ken’. ‘Opmerk’ beteken Jesus het uit hulle onderlinge gesprek afgelei waaroor hulle verwar is. ‘Ken’ beteken Jesus het hulle gedagtes geken, soos in Joh. 6:61 waar dit uitgespel is as ‘n ken ‘in Homself’ (1983-vertaling: Jesus het vanself geweet) (vgl. ook 1:48; 2:24-25; 6:42).
16:20 Plegtig verseker Jesus hulle: binnekort gaan julle huil en treur/rou soos by ‘n begrafnis waar klaagliedere gesing word (threneoo; volgens Lukas 23:27 het van die vroue van Jerusalem al treurende agter die kruisdraende Jesus aangeloop en klaagliedere gesing). Met die rouwoorde verwys Jesus na sy dood. Maar terwyl die dissipels sal rouklaag, sal die blye gejuig van die triomfantlike wêreld weerklink. Jesus verseker sy dissipels dat dit waaroor hulle gaan treur sal die rede vir hulle vreugde word (ginomai; hulle droefheid sal nie bloot plek maak vir vreugde nie). Sy doodsoffer is juis die bron van ons ewige lewe. Oor sy dood vir ons sonde kan ons elke dag juig en sing met ‘n vreugde wat niemand of niks van ons kan wegneem nie (vgl. Rom 8:38-39).
16:21 Jesus verduidelik die verandering van droefheid in vreugde met die beeld van ‘n vrou in kraam, wat een oomblik skreeu van die pyn, en die volgende oomblik straal van vreugde oor dieselfde kindjie wat die pyn veroorsaak het. Van die swanger vrou word gesê dat haar uur gekom het. So het Jesus se uur nou gekom. Haar vreugde is oor ‘n mens wat in die wêreld gebore word (gennaoo). So is Jesus se opstanding die geboorte van ‘n nuwe mens, van ons wedergeboorte (gennaoo anothen van Bo af; Joh. 3:3) as kinders van God (na sy opstanding noem Jesus sy dissipels ‘my kinders’ paidia; Joh. 21:5; 1983-vertaling: ‘mense’). Die beeld van die vrou in kraam word in die Ou Testament gebruik (i) vir God se oordeel oor die sonde , bv. in Jes.21:2-3 waar angs die profeet oorval, soos vir ‘n vrou in kraam, oor sy boodskap van God se oordeel oor Babel; in Jer.13:21 dat dit vir Jerusalem netso pynlik sal wees wanneer die Here gaan straf; Miga 4:9-10 dat Jersualem geroep word om so te krul van pyn oor hulle wegvoering na Babel. (ii) en oor God se verlossing van sy volk: bv. in Jesaja 66:7-14 word Jerusalem se ballingskapspyn en terugkoms in vreugde oor hulle nuwe lewe vergelyk met ‘n vrou wat kraam in pyn is en juig oor die geboorte. So word die opstanding uit die dood vergelyk met ‘n vrou wat geboorte gee in Jes.26:16-21. Met ‘n geboorte se pyn en vreugde vergelyk Johannes Jesus se sterwe en die koms van die Heilige Gees om ons aan die Seun van God te verbind tot kinders van God saam met Jesus in sy sterwe en opstandingslewe.
16:22 In 16:16 het Jesus gesê: na ‘n kort rukkie sal hulle Hom weer sien. Hier sê Jesus: Julle het nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien. Hy sal kom en Hom sigbaar aan hulle vertoon, soos na sy opstanding gebeur het (hfs. 20). Hulle harte sal bly wees – die oorsprong van hulle denke, gevoel en wil, wat hulle hele lewe bepaal (vgl. wat uit die hart kan kom, volgens Mk 7:21 -22). Wanneer die hart vol blydskap is, is die hele lewe vol blydskap. Hierdie blydskap in die hart kan niemand of niks van hulle wegneem nie. Die dood en opstanding van Jesus is nie ‘n geïsoleerde gebeurtenis nie, maar die begin van ‘n nuwe skepping, met God wat in hulle kom woon. Hulle lewe word deel van die liefdesgemeenskap tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
16:23 Die vreugde van die nuwe tyd wat deur hierdie Paasfees ingelei word, is eerstens die vreugde van verstaan: Die dissipels gaan niks meer vir Jesus vra nie, want Hy sal nie meer fisies by hulle wees nie. Maar die Gees sal hulle in die volle waarheid lei (16:13 die waarheid van God se openbaring van Homself as ons Vader, Christus ons Verlosser, Die Gees as ons Leidsman na Jesus). Die tweede aspek van hierdie vreugde is verhoorde gebed: voorwaar, voorwaar, wat hulle ookal in sy Naam (as sy verteenwoordigers) vir die Vader vra, sal Hy vir hulle gee. Nou het hulle direkte toegang tot die Vader in gebed. Soos Jesus direk met die Vader gepraat het, kan hulle nou, deur Jesus as hulle middelaar, direk met die Vader praat. Christus is ons voorspraak by die Vader (1 Joh. 2:1). In Jesus se Naam beteken ook volgens sy wil, en soos Hy ons geleer het. In ons gebed praat Jesus met sy Vader, soos die Gees ons lei in die volle waarheid – takke in die ware wingerdstok wat met vreugde vir die landbouer vrug dra.
16:24 Terwyl Jesus by hulle was, het hulle nog niks van die Vader in Jesus se naam gevra nie. Nou rig Jesus hulle gebede, om tot die Vader te bid in sy Naam, as mense wat in Hom bly en Hy in ons (Joh.15:4), om te bid vir sy saak en vir sy heerlikheid; en julle sal ontvang, uit die Vader se hand (vgl. Joh.15:7). Hy sal gee dat ons vrug sal dra wat sal hou (Joh.15:16), sodat ons vreugde sal ‘vol wees’, ons blydskap volkome sal wees (Joh.15:11) – ‘n vreugde wat die weerspieëling is van ons innige verbondenheid aan Jesus en die Vader, deur die inwoning van die Gees (vgl. Flp. 3:1; 4:4 verbly julle/wees bly in die Here), die blydskap wat niemand of niks van ons kan wegneem nie – ‘n lewe vervul met vreugde in die Here onder alle omstandighede (Rom.8:38-39).
Skrywer: Prof Francois Malan