Vrouedrag in die Kerk

Vrouedrag in die Kerk – Francois Malan

Jacobus vra: 

Ek behoort aan een van die Pinkster Kerke wat baie gekant is dat vroue broeke aantrek en hul hoofde bedek moet word in die eredienste. Kan u asseblief uitbrei en hulp gee op hierdie vraag.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ek veronderstel dat die kerk se teenkanting teen vroue wat broeke dra, kom uit die lees van Deuteronomium 22:5, en die voorskrif oor die bedekking van hulle hoofde uit 1 Korintiërs 11:5.

Deutr.22:5 vra dat die uiterlike onderskeid tussen geslagte en soorte wat God ingestel het eerbiedig sal word. Dit dra die stempel van die ou wettiese bedeling van Israel.

Die Hebreeuse woord keli wat deur die oorspronklike skrywer van Deuteronomium gebruik is, dui nie net kleredrag aan nie, maar ook wapens vir oorlog en ander gebruiksvoorwerpe vir die plaas en die huis. Die vroueklere simelot wat die mans nie mag dra nie, verwys weer na die vrou se mantel waarmee sy haar toedraai. Dit beteken dat ‘n vrou nie moet probeer om soos ‘n man te lyk of op te tree nie, en die man nie soos ‘n vrou nie.

Die afsku (Hebreeus: to’ebat) van die Here God, waarvan Deutr.22:5 praat, wys dat die uitruiling van mans en vroue se klere ook te doen het met die gebruike wat by die heidense Kanaäniete voorgekom het, en die Here wil nie hê dat Israel deelneem aan die Kanaäniete se feeste en die gebruike wat hulle daar beoefen nie, wat waarskynlik ook met homoseksuele dade gepaard gegaan het.

In 1 Korintiërs 11 verwys Paulus na die gebruike van sy tyd, toe dit vir ‘n vrou ‘n skande was om haar hare af te sny of af te skeer (v6).

Die aanwysings van Paulus oor optrede in die gemeente se samekoms volg op die beginsels wat hy in 1 Kor 10:23-11:1 gestel het – vgl. bv. vers 32: Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie. Hier was nou ‘n gebruik van die Jode in die gedrang. ‘n Joodse vrou kon destyds in haar huis kaalkop bly, maar as sy uitgaan moes haar kop bedek wees. Vir ‘n getroude vrou om in die openbaar sonder iets om of op haar kop was ‘n ernstige skande. En so het die eerste gemeentes wat met Joodse gelowiges begin het, die gebruik in die kerk gevolg dat vroue se kop bedek was.

In 1 Kor 11:13 vra Paulus die gemeente om self te oordeel of dit betaamlik is (letterlik: of dit gepas is) vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid. ‘Gepas’ sluit aan by die mode van die tyd, of dit in die algemene gebruik pas. En in v16 verwys hy na die gewoonte in Korinte en in ander gemeentes, na die algemene gebruik. Daarom is Paulus teen die vroue wat hulle vryheid in Christus wat hulle van die wet vrygemaak het, misbruik deur aanstoot te gee aan ander gemeentelede en ander gemeentes.

Die gebruike van ons tyd verskil baie van destyds, en dit is nie meer onvanpas vir ‘n vrou om sonder ‘n hoed op straat of in vergaderings te verskyn nie – ook nie met broeke wat vir vroue gemaak is nie.

Christus het ons vry gemaak van ‘n wettiese lewe, waar ons met goeie werke ons verlossing of God se goedkeuring probeer verkry. Hy het die verhouding van ons sondaars met God kom regmaak deur ons sondes alles op Hom te neem, sodat ons in die verhouding van kinders tot ons Vader kan lewe (Romeine 8:14-17). Dit is alles uit God se genade en liefde vir ons (Galasiërs 5:1). Ons groot vraag vandag is of ons ons vryheid in Christus uitleef in liefde vir God en ons medemens, en nie vir ander ‘n struikelblok is nie (vgl. 1 Kor. 10:23-11:1)..

 

Skrywer: Prof Francois Malan