Wanneer kom Israel tot bekering?

Wanneer kom Israel tot bekering? – Francois Malan

Martin vra:

Ons wil graag weet wanneer en waar Israel tot bekering sal kom.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Daar is verskillende verklarings vir Romeine 11:25-26. Ek haal hoofsaaklik aan uit Willie Jonker se kommentaar op Romeine.

Die beginwoorde van vers 25 laat merk dat Paulus tans iets baie gewigtigs wil sê. Hy wil aan sy lesers ‘n profetiese waarheid meedeel wat gedeeltelik op Goddelike openbaring berus en gedeeltelik reeds in die geskiedenis merkbaar is. Hy noem dit ‘n verborgenheid, ‘n benaming wat gewoonlik gebruik word vir ‘n waarheid wat tevore verborge was, maar in die loop van God se handelinge met die mense langsamerhand duidelik geword het (vgl. Ef.1:9; 3:3-7; Kol.1:26,ens). Dit is van belang dat Christene uit die heidene hierdie waarheid omtrent Israel sal weet, sodat hulle nie eiewys mag wees nie, d.i. volgens hulle eie insig en wysheid oor Israel sal oordeel nie. Die verborgenheid bestaan dáárin dat die verharding, wat oor Israel gekom het, ten dele is, d.i. dit raak nie die hele Israel nie. Daarby sal die verharding voortduur totdat die volheid van die heidene ingegaan het (die Griekse woord pleroma dui die totale hoeveelheid aan, met klem op die voltooidheid: volle getal, volheid, volledigheid, voltalligheid). Die volheid van die heidene is, net soos die volheid van Israel (die Griekse woord pas dui die totaliteit of volledigheid van enige voorwerp, massa, versameling aan), die volle getal van diegene wat God uit die heidendom verlos. Met ingaan word kennelik bedoel: ingaan in die Koninkryk, deel ontvang van die verlossing. Uit die feit dat die volheid van die heidene seker eers teen die einde van die tye ten volle in die Koninkryk ingebring sal word, mag ons aflei dat Paulus verwag dat die gedeeltelike verharding van Israel sal voortduur tot aan die einde van hierdie bedeling.

26a Met die hele (pas) Israel word dieselfde bedoel as met die volheid (pleroma) van Israel in vers 12 (NAV volle getal), en dié begrip lê in lyn met die begrip volheid (pleroma) van die heidene in vers 25 (NAV volle getal uit die heidennasies). Dit dui Israel as totaliteit aan, Israel soos dit deur God bedoel is om te wees en soos Hy Sy oorspronklike beloftes aan die vaders ten opsigte van hulle waargemaak het. Anders gesê: dit dui die volle getal Israeliete aan wat deur Gods genade gered sal word. Sommige verklaarders meen dat die hele (pas) Israel slaan op die kerk, die geestelike of ware Israel wat uit Jode en bekeerde heidene bestaan. Dié verklaring kan aansluit by die uiteensetting oor die takke van die wilde olyf wat ingeënt word op die mak olyfboom (verse 17,18). Waar Paulus egter nooit die benaming Israel in so ‘n geestelike sin as aanduiding van die kerk gebruik nie, terwyl hierdie hoofstukke spesifiek oor Israel as volk handel, is dit beter om te hou by Israel as volk.

Die woorde ‘en so’ (Grieks houtos met verwysing na wat voorafgaan: so, dus, op die manier) waarmee vers 26 begin, dui daarop dat die hele Israel gered sal word op die wyse wat in vers 25 aangedui is: die gedeeltelike verharding sal oor Israel bly, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Dit beteken nie dat daar dán, nadat die volheid van die heidene ingegaan het, skielik ‘n massabekering van Jode sal plaasvind nie, maar dat die bekering van die Jode só sal plaasvind dat die hele Israel ingebring word terwyl die gedeeltelike verharding voortduur en sommige oortuig word dat die Jesus wat hulle gekruisig het hulle beloofde Messias is. Terwyl sommige verhard bly, kom ander tot bekering. Dit sal so voortduur dwarsdeur die hele tydperk waarin ook die volheid van die heidene ingebring word. Wanneer die volheid van die heidene ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees. Dan is die einde daar. Dan is God se beloftes ten volle vervul. In die lig van Paulus se verkondiging dat die bekering van die heidene Israel jaloers maak, is dit ook duidelik dat die ingaan van die volheid van die heidene die instrument in God se hand is om die hele Israel tot verlossing te lei. (Netsoos die volheid van die heidene nie alle heidene beteken nie, maar die volle getal wat God uit genade red, beteken die volheid van Israel ook nie alle Jode nie, maar die volle getal Jode wat God uit genade red, soos Rom.9:10-13 kras uitgedruk het met slegs een van Rebekka se tweeling vir wie God geroep het sodat die doel van God se keuse sal bly/sodat God se keuse van een seun heeltemal die gevolg sal wees van God se bedoeling; vgl. Rom.9:6).

Die redding geskied slegs deur Christus se offer aan die kruis, en ons verbondenheid aan Hom deur die Heilige Gees wat in ons kom woon en ons oortuig dat Jesus God is wat ons sondes en ons skuld gedra het. Dit geld vir Jode sowel as nie-Jode (Rom.5:1-11; 18-21).

 

Skrywer: Prof Francois Malan