Wat beteken dit om te vas?

Wat beteken dit om te vas? – Francois Malan

Thayne vra:

Verduidelik asb. Vir my Matteus 9:16 – 17

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

In Mt 9:16-17 verduidelik Jesus met twee analogië hoe sy koms na die wêreld die Fariseërs en die Jode se opvatting van geregtigheid, dit is die regte manier van lewe voor God, verander het.

In die vorige twee paragrawe het eers die Fariseërs en toe die dissipels van Johannes die Doper, Jesus se optrede, wat strydig is met hulle siening van die regte optrede, bevraagteken.

 

Die Fariseërs, toegewydes aan die wet van God, glo as hulle met tollenaars en sondaars saam eet, word hulle onrein voor God. En in Mt 9:10 eet Jesus (die Seun van God) ‘n vreugdevolle feesmaal in die huis van die tollenaar Matteus, wat pas ‘n volgeling van Jesus geword het, en dit ook saam Matteus se tollenaar- en sondaar-vriende wat hy genooi het. Die Fariseërs glo hulle regte lewe voor God word besmet deur in die huis van ‘n heiden en ‘n sondaar in te gaan en saam met hulle te eet. Hulle vra vir Jesus se dissipels (sy leerlinge) waarom hulle leermeester saam met tollenaars en sondaars eet. Jesus, die Leermeester wat van God af kom, leer die Fariseërs oor God se wil: Hy kom soos ‘n dokter wat siekes genees van hulle siekte, en sondaars verlos van hulle sonde. God vra barmhartigheid en nie offers wat die Fariseërs en Jode  vir Hom bring nie. 750 jaar tevore het die profeet Hosea al dié woord van die Here vir Israel en Juda gesê: ‘Ek verwag liefde eerder as offers.’ Dit haal Jesus nou vir hulle aan (Mt 9:13; vgl. ook Miga 6:6-8: die Here vra nie offers nie, maar om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor jou God). Hulle verstaan die geregtigheid wat God van ‘n mens vra verkeerd. God vra dat ons mense met liefde sal behandel.

 

Johannes die Doper het ‘n asketiese lewe gevoer, en sy prediking was bedoel om die mense voor te berei vir die koms van die Messias deur berou oor en bekering van hulle sondes (Mt 3:1-4). Sy dissipels vra waarom Jesus en sy dissipels nie soos hulle en die Fariseërs vas nie (Mt 9:14). Jesus antwoord dat Hy gekom het as die bruidegom (soos Johannes die Doper van Jesus gepraat het as die bruidegom oor wie se stem hy baie bly is; Jn 3:29), en sy bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie – hulle sal wel vas wanneer Hy van hulle weggeneem word met sy kruisiging en dood, maar na sy opstanding verseker Hy hulle: ‘Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Mt 28:20). Jesus se bediening roep sy volgelinge op tot volle vreugde in liefdesdiens van God en medemens (Mt 22:27-29; 25:21,23).

 

Om die nuwe pad te beskryf van die geregtigheid voor God wat Jesus vir ons gebring het, beskryf Hy toe die twee ooreenstemmende voorbeelde in Mt 9:16-17. Jy kan nie die nuwe pad van geregtigheid volg deur vas te klou aan die ou vorme van godsdiens om God mee te behaag nie: die Fariseërs met beskerming van hulle reinheid voor God deur nie met tollenaars en sondaars te meng nie, en die Jode met vas as teken van berou oor die sonde voor God nie:

            ‘n Nuwe lap wat nog nie gekrimp het nie, kan nie oor ‘n ou lap se skeur vasgewerk word nie. Met die eerste was, krimp die nuwe stuk lap, en skeur die ou lap. Nuwe wyn (mos) wat nog gis, kan nie in ou leersakke gegooi word waarvan die leer al verhard het nie. Die gistingsproses sal die sakke laat bars, die wyn is daarmee heen sowel die ou leersakke. Nuwe wyn wat nog bruis van lewe word in nuwe leersakke gegooi wat kan rek in die gistingsproses. Die nuwe lewe vereis nuwe godsdienstige vorme. Uit onselfsugtige liefde het Jesus in ons plek ons sonde op Hom geneem en ons verhouding met God reg gemaak – dit is God se geregtigheid wat ons verkry deur in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam. Die gehoorsaamheid wat Jesus vra het Hy saamgevat in sy nuwe gebod dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34-35; 15:12-17).

 

God vra liefde, selfs teenoor ons vyande (Mt 5:43-48), en dat jy nie dink jy is beter as en neerkyk op die tollenaars en sondaars nie, maar om hulle met liefde na Christus toe te trek (vgl. ook 1 Tim 1:15). Om so te vas dat die mense dit kan sien, het geen waarde voor God nie (Mt 6:16-18). Die Christen se lewe word nie gekenmerk deur treurmares en vas nie, maar deur vreugde oor die genade en volheid van God waaruit hy/sy daagliks lewe. Daarom is vas om God se guns daarmee te wen en die vreugde van burgers van die koninkryk van God onverenigbaar. Jesus se soendood laat ons reeds in God se guns lewe. Ons vas bestaan uit selfbeheersing, wat ‘n vrug is van die werking van die Heilige Gees in ons (Galasiërs 5:22-23). Ons hele optrede moet getuig van die bruidegom, Jesus, en die goeie nuus wat Hy verkondig, die nuwe tyd van vreugde (nuwe wyn) saam met die bruidegom – selfs in tye van lyding en swaarkry (Rom 8:17 as ons saam met Hom ly, kan ons ook saam met Hom verheerlik word).  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan