Wat leer Jesus vir ons in die gelykenisse?
“I want to know God’s thoughts. The rest are details.” – Einstein
Wat leer Jesus vir ons in die gelykenisse?
Hierdie is ‘n verdere artikel uit Mel Lawrenz se “Understanding the Bible.”
Baie van Jesus se gelykenisse – soos die barmhartige Samaritaan – is in ons kultuur ingebed. Die gelykenis van die verlore seun is die hele evangelie saamgevat in ‘n eenvoudige boodskap. So kan ons die gelykenisse een vir een deurgaan – hulle is vensters op die werklikheid.
Jesus gebruik soms gelykenisse, want hierdie stories betrek ons gedagtes, emosies en sintuie. Hulle dwing ons om weg te gaan en na te dink. Ons kan nie hulle boodskap ontsnap nie. Jesus sê dat die gelykenisse die geheime van die koninkryk van God ontsluit vir diegene wat ore het om te hoor (Lukas 8:8 – 10).
Meeste gelykenisse het een hoofpunt. In meeste gevalle het die besonderhede van die storie geen spesifieke simboliese betekenis nie. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan heg Jesus geen simboliese betekenis aan die rowers, die man se wonde, die herbergier of die donkie nie. As ons wel betekenis aan hulle heg, is dit arbitrêr.
Die eenvoudigste en natuurlikste verduideliking van ‘n Bybelse teks is altyd die beste. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is Jesus se antwoord op wie ons naaste is. Jesus maak dit duidelik aan die einde van die gelykenis as Hy vra: Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het? Die wetgeleerde antwoord: ‘ Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Gelykenisse is nie abstrakte onderrig nie. Meestal roep hulle mense op tot ‘n sekere reaksie. As Jesus wel sekere betekenis heg aan die besonderhede in die gelykenis – soos in die gelykenis van die saaier – moet ons dit natuurlik aanvaar.
As ons die gelykenisse lees, moet ons die kulturele en geografiese agtergrond verstaan. So sal ‘n goeie kommentaar die pad van Jerigo na Jerusalem – die pad wat die barmhartige Samaritaan gereis het – beskryf. Dit is ‘n stowwerige pad in die heuwels van Judea. Dit is ‘n eensame en verlate plek waar rowers algemeen mense aangeval het. Ons sal die gelykenisse oor landbou beter verstaan as ons die lewe van ‘n boer van destyds verstaan.
Die einde is baie belangrik. Die sleutel wat die gelykenis ontsluit, kry ons dikwels in die laaste sinne.
Die gelykenisse van Jesus is God se gawe aan ons sterflike mense wat nie alleen die waarheid kan ontdek nie – ons kan nie die betekenis van die lewe interpreteer nie.
Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af (Matteus 13:35)