Wat van ons heerlikheid?
We do not receive wisdom, we must discover it for ourselves, after a journey through the wilderness which no one can make for us, which no one can spare us (Marcel Proust)
Wat van ons heerlikheid?
Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.
Ons moet eers leer wat ons vandag as selfverbetering ken. Daarvoor kyk ons na twee Skrifgedeeltes:
- Matteus 5:6: Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is hulle wat nie blydskap soek nie, maar geregtigheid. Blydskap is ‘n neweproduk van iets wat meer as geluk is; blydskap is die regte verhouding met God en my naaste. As ek God in my lewe soek, kry ek blydskap as ‘n neweproduk. As ek persoonlike geluk in die lewe soek, kry ek niks nie.
- Matteus 10:39: Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. As ek gewillig is om my lewe vir God se onthalwe te verloor, as ek bereid is om persoonlike vryheid, gemak en bevrediging opsy te sit om Jesus Christus te gehoorsaam en te volg, sal ek myself vind. Ek sal ontdek wie ek werklik in Jesus Christus is en vrede ondervind. As ek egter persoonlike geluk sonder ‘n lewe in Jesus Christus soek, lei dit tot ‘n innerlike leegheid.
Ons leef in ‘n kultuur van individualisme. Dit beïnvloed hoe ek lyding hanteer. Ek moet God vertrou, want Hy is God – nie my persoonlike assistent nie. Ek moet Hom vertrou nie om iets by Hom te kry nie, maar omdat Hy dit werd is. As ek God liefhet en gehoorsaam omdat Hy God is en nie vir my voordeel nie, verander ek. As ek nie myself soek nie, maar vir God, kry ek beide – God en myself.
Aim at heaven and you get earth “thrown in” – aim at earth and you get neither.
As ek God sien en aanvaar soos Hy werklik is, bring dit my in aanraking met die werklikheid. Sien ek die soewereiniteit, wysheid, geregtigheid, grootheid en liefde van God sal ek nie deur die wêreld in bitterheid, trots, angs en mismoedigheid struikel nie. As ek nie my eie voordeel, maar God se heerlikheid soek, lei dit paradoksaal tot die ontwikkeling van my eie heerlikheid – my eie karakter, nederigheid, hoop, liefde, vreugde en vrede.
Lyding kan lei tot my persoonlike groei en transformasie, maar dan moet ek dit nooit primêr sien as ‘n weg om my te verbeter nie. As ek dink lyding gaan primêr oor my en my groei, sal dit my verwurg. Ek moet na lyding kyk as ‘n manier om God beter te leer ken, ‘n geleentheid om Hom te dien, om nader aan Hom te kom as ooit vantevore.
Net as God se heerlikheid primêr in my lyding is, kry ek my eie heerlikheid. Hartseer en probleme kan dit doen – deur my swaarkry groei ek in genade en heerlikheid.