Word narsisme ‘n deug?
In the long run, we shall do more by sometimes doing less. —C.H. Spurgeon
Word narsisme ‘n deug?
[Narsisme = Sieklike liiefde vir die self. Narcissus was ‘n buitengewoon aantreklike jong man wat op sy eie beeld verlief geraak het – HAT]
In ons moderne samelewing word die individu hoog aangeslaan – die tyd waarin almal voel dat hulle hulle elke beweging aan almal moet publiseer. Ons publiseer elke beweging op Facebook en meet dan ons waarde volgens die aantal “likes” wat ons kry. Die subteks: “Dit is my lewe en almal moet daarvan weet en daarvan hou!” Die vraag is: Het die pendulum te ver geswaai? Is ons selfbehep – het ons ‘n obsessie met onsself?
Jean Twenge en Keith Campbell (The Narcissim Epidemic: Living in the Age of Entitlement) se navorsing toon duidelik dat ons obsessie met onsself besig is om toe te neem. Natuurlik is ‘n realistiese siening van jouself belangrik, maar dit is maklik om oor die lyn te trap. Wat is verkeerd met narsisme? Hier is ‘n paar dinge:
- ‘n Opgeblaasde siening van jouself laat ons nietighede opblaas. Alles van my moet net te wonderlik wees. Maar as alles so wonderlik is, hoe differensieer ons tussen dinge? Hoe hanteer ons teleurstelling? Hoe kan ons die gewone dinge vier?
- Nasisme maak ons blind vir die sonde. Dit verhoed dat ons ons behoefte aan vergifnis en verlossing raak sien.
- ‘n Wêreld oor myself en ek word baie gou te klein.
- Jesus het geleer dat as ons ons lewe verloor, vind ons dit. Dit klink paradoksaal, maar dit is waar. As alles net oor my gaan, gaan iets binne in my dood.
- Ek word ‘n verbruiker van dienste waartoe ek voel ek geregtig is. Ek word gefikseer op my regte en vergeet van my verantwoordelikhede.
- As ek my net met my en my dinge besig hou, vergeet ek van die behoeftes van ander.
- Ek luister nie na die stories van ander nie. Al waarin ek belangstel is my eie storie.
- Ek plaas my vertroue in myself. Om Jesus te aanbid en Hom in die middel van my lewe te plaas, verdwyn vinnig.
Dit help nie ons praat net oor ‘n probleem nie … ons moet iets daaraan doen. Daar is eenvoudige hulpmiddels wat ons kan help. Dink ‘n bietjie na oor hoe die hawelose persoon wat buite slaap sy tyd tydens die dag spandeer. Hierdie oefening wat ‘n bewustheid van ander vereis, kan help. Deur hierdie vraag na te vors, word ek aan ‘n nuwe wêreld blootgestel.
Is die toename in narsisme nie dalk ‘n teken van ‘n wêreld wat te klein geword het nie? Is dit nie ‘n teken van ‘n wêreld wat nie meer ‘n storie het om my te inspireer nie? Is dit nie ‘n teken dat my lewe buite my eie beperkte parameters moet skuif nie? Miskien moet ons weer daaraan herinner word dat God my liefhet en dat sy liefde die hele wêreld insluit.
Daar is baie stories wat vertel kan word. My plek is nie om die hoofrol in elkeen te speel nie. Deur op die kantlyn te staan en ‘n storie wat niks met my te doen het, te vier, is ‘n goeie begin.